Esegiël 37: 1-14
Israel ontvang hierdie profetiese woorde aan hulle tydens ’n bittere laagtepunt in die volk se lewe. Hulle is deur die Babiloniërs ingeneem. Hulle word weggevoer na ’n vreemde land. Hul lewe word ontwortel en hulle voel dit is die einde van die pad. Hulle is so moedeloos dat hul bestaan beskryf word in terme van droë bene. Leweloos, uitsigloos, hopeloos. Hulle word as dood beskryf. Maar te midde van die doodse bestaan wat hulle voer, breek daar ’n ligstraal van hoop deur wanneer God aan die woord kom.
Ons lees dat die Gees van God uit al vier die windstreke kom en in hierdie dooies ingeblaas word. Die simboliek hiervan is dat God nie ingeperk is deur ruimte nie. God is orals: noord, oos, suid en wes. En in God se alomteenwoordigheid bring Hy ware lewe.
Hierdie bene waaraan daar nou vleis en senings en vel is, hoe groot die wonderwerk daarvan ook al is, kan nog nie waarlik lewendig genoem word voordat God sy asem/Gees in hulle geblaas het nie. Dit herinner so aan die skeppingsverhaal waar God die mens uit die stof van die aarde maak en dan sy asem in die mens se neus blaas sodat die mens kan begin lewe… God blaas sy eie asem, sy eie Gees, in die mens in sodat daar lewe kan wees.
So voel jy dalk ook moedeloos (waaroor dit ook al is), tot so ’n mate dat jy jou lewe ook beskryf in terme van droë bene. Leweloos, uitsigloos, hopeloos. Maar só breek daar ook vir óns elkeen soos vir Israel van ouds ’n ligstraal van hoop deur wanneer God aan die woord kom: Hoor die woord van die Here. Laat daar Gees in julle kom sodat julle kan lewe. Trouens, omdat daar nog asem in jou longe is, wéét dat God steeds ’n doel met jou lewe het. Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam