Johannes 10: 1-21
In die Bybelse tyd moes boere dieselfde doen as wat die meeste boere vandag in Suid-Afrika moet doen om hul skape veilig te hou: Jy moet jou skape kraal. Hierdie skaapkrale was gereeld in die middel van ’n familie se grondgebied met die familie se huise wat om die skaapkrale gebou is om die skape veilig te hou teen diewe en roofdiere.
Wanneer die herder in die skaapkraal gekom het, sou hy al sy skape roep om te gaan wei. Die skape luister na die herder se stem. Wanneer hy al sy skape uitgebring het, loop hy voor hulle uit, en die skape volg hom, omdat hulle sy stem ken. Met ander woorde: Die skape volg uit hul eie die herder… Ons is ’n bietjie vreemd aan hierdie wêreld omdat die praktyk bestaan dat skape aangejaag word na waar hulle moet wees.
Die absolute vertroue in hierdie herder staan voor. In die beeldspraak is God die goeie Herder wat óns, die skape, roep. Ons hoor ons Herder se stem en ons volg Hom. Ons Herder loop voor ons uit – Hy jaag ons nie aan tot by ’n plek waar ons nie wil wees nie. God lei ons.
Indien jy beleef jy word soos ’n skaap aangejaag, moet jy jouself afvra of dit werklik van God af kom. Ons goeie Herder roep en lei ons – luister en volg. Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam