Esegiël 47: 1-12
Die beskrywing van die water se sterkte in dié Skrifgedeelte is geen toeval nie. Eers enkeldiepte, dan kniediepte, dan heuphoogte, en dan moet Esegiël swem in hierdie stroom se rigting, want dit is gewoon te diep. Mag dit wees dat Esegiël voel hy word meegesleur deur die strome van die lewe? Ons kyk objektief na hierdie verhaal, maar selfs al weet Esegiël en ons wat dit lees dat hierdie ’n stroom is deur God só gewil, maak dit die sterkte van die stroom nie minder werklik nie.
Ook in ons lewe kom hierdie vloede – die strome van die lewe. In ’n gelowige se lewe kom juis hierdie vloede. Vloede deur God gewil. Op die lewenspad wat ons stap, kom ons almal uit voor riviere in vloed en bid ons tot die Here om wysheid en insig te gee oor die strome van die lewe voor ons. By sommige van die strome word ons wel gelei om nie ons voete daarin te sit nie, want as ons hoër op kyk, kom die water nie van onder die drumpel van die tempel uit nie, dus nie van God nie. Met ander strome word ons egter gelei om ons voete daarin te sit, om enkeldiepte, kniediepte, heuphoogte te gaan – selfs te swem in geloof.
Dalk staan jy op hierdie oomblik van jou lewe voor ’n onbekende stroom. Het jy opgekyk en bevind waarvandaan die water kom? Vertrou jy die Water wat jou gaan neem waar jyself nog nie weet nie? Dalk beleef jy tans ’n storm in water wat jou meesleur. Vertrou ook dat die Here jou krag sal wees terwyl jy swem. En daar waar jy nie meer kan nie en so geneig is om vanuit jou eie menslikheid teen die stroom te wil swem, vertrou God en rus in die stroom se draaie en swaaie. Ons weet in die varswaterstrome deur God gewil, dat dit ten goede uitloop en lewe bring – selfs daar waar ons dink dat ’n Dooie See voorlê. Amen.
Ds Rudi Janse van Rensburg, Swellendam