Jesaja 9: 1-6

In Jesaja 9 begin die skrywer deur ’n donker prentjie in te kleur. Die volk leef in donkerte. Tog, binne die donker, sien hulle hierdie groot lig. Ons weet lig verdryf die donker. Dit wat Jesaja beskryf, is egter geen klein liggie nie. Dit is ’n groot lig wat skyn. Dit het die neerslagtigheid van die volk verander in vreugde en blydskap. Hulle het die teenwoordigheid van die Here ervaar. Reeds in Jesaja kom die profetiese woord: Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors…

Jesus is die lig van ons lewens, Hy kom en verdryf die donker in en om ons. In Hom is daar geen duisernis nie. Hy steek in ons ook hierdie liggie aan sodat ons ook die duisternis kan verdryf. As die Lig van Jesus Christus in ons harte brand, kan ons, soos die volk in die tyd van Jesaja, die vreugde en blydskap van die lig ervaar.

Selfs wanneer ons in onsself nie meer die lig sien nie, omstandighede moeilik raak, ons neerslagtig raak oor die toekoms, of selfs oor wat ons van dag tot dag beleef, kan ons leef met die wete Jesus is die Lig. Niks kan sy lig uitdoof nie. Die keuse bly egter by ons. Laat ons die Lig, die Raadsman, Magtige God, Ewige Vader en Vredevors toe in ons lewens, of hou ons die deur toe en bly opgesluit in die donker? As gelowige moet ek die deur oopmaak sodat die ware Lig van Christus in my lewe kan inskyn. Sy Lig wat deur my en my gebrokenheid skyn, moet vir ander weer die lig bied, sodat hulle ook kan deel in die vreugde en blydskap van die Here.

Gebed

Here, mag u seën hierdie Adventstyd op elkeen van ons rus. Mag u Lig oor ons lewens skyn. Mag die Goeie Nuus van Jesus en sy koms ons lewens verander en ons hoop gee vir die toekoms. Amen.

Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos