1 Johannes 4: 13

Ek wonder, wat as die Kersverhaal anders gelyk het? As daar niks was om na uit te sien nie? Ons het die Kersverhaal al talle kere gehoor, maar wat as Jesus nie as ’n baba in hierdie wêreld ingekom het nie? Wat as sy verhaal begin het as volwassene wat moes sterf aan die kruis? Ek wonder wie sou geglo het Hy is die Messias? God kan natuurlik na die wêreld kom soos Hy wil, Hy is immers God. Tog kies Hy die brose manier. Hy kom in hierdie wêreld in as ’n onskuldige kindjie, uit ’n mens gebore, maar tog God.

God kom na ons toe. Daar is net een pad. Nie van ons af na Hom toe nie, maar een pad van God af na ons toe. Dit is juis die punt, God kom na ons toe, want Hy is lief vir ons, Hy wil sy liefde vir ons openbaar. Hy wil jou vreugdes met jou deel, jou in hartseer en nood kom vertroos. Dit wys vir ons God se eintlike broosheid deur sy Seun Jesus Christus. God se storie, sy verhaal, sy geboorte, is nie iets wat uit die lug geval het nie. Hy ken my pyn, maar ek sien ook Jesus se pyn en lyding. Ek weet waar Hy vandaan kom, dit voel net by die aanhoor van die Kersverhaal of ek vir Jesus ken, op die Naam. ’n Mens kan amper sê ons raak familiêr, want ek ken die name van sy ma en sy pa.

Jesus ken my pad en ek ken die pad wat Hy gestap het. Ek hoef nie vir Jesus iewers te gaan soek nie, want Hy is reeds hier. Hy het op hierdie aarde mens geword. Daarom kan ek ophou rondtas in die donker, ophou soek na die Messias, want die Verlosser het my reeds gekry. En daar is net een pad, Hy sê dit self in Johannes 14: 6: Ek is die weg en die waarheid en die Lewe… 

Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos