Efesiërs 2: 1-10

’n Pa en seun het pragtige skilderye van bekende kunstenaars versamel. Toe word die seun opgeroep vir diens in die weermag. Enkele weke daarna is hy in ’n kruisvuur gedood. Een oggend klop daar iemand aan die man se deur, hy stel homself voor as die een wat deur die man se seun gedra is in die kruisvuur. Hy gee vir die gebroke pa ’n pakkie, met ’n selfportret van sy seun, wat die jongman met detail geskilder het.

Jare daarna is die man oorlede, en kunsversamelaars wag opgewonde dat die kunswerke van die versamelaar opgeveil word. Die afslaer begin by die selfportret. Dit moes volgens die testament eerste verkoop word. Niemand stel eintlik daarin belang nie, maar om net die veiling aan die gang te kry, steek iemand sy hand op en maak ’n aanbod van $100. Niemand anders bie eens nie. Die bod word toegeslaan en die afslaer kondig die einde van die veiling aan. Tot almal se verbasing het die testament bepaal dat wie die portret van die seun koop, alles kry.

Is dit nie ook maar die essensie van Advent en Kersfees nie? Wie die Seun kies, kry alles! 1 Johannes 5: 11 en 12 stel dit soos volg: God het ons die ewige lewe gegee, en dié lewe is deur sy Seun. Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die lewe nie.

Paulus herinner ons in Efesiërs 2 hoe groot die liefde en genade van God is. Hy het ons lewend gemaak. Uit genade is julle gered. Hierdie genade is vir ons genoeg. Sy genade raak nooit op nie. Sy genade is nie goedkoop nie, daar is ten duurste met sy Seun se lewe daarvoor betaal. Soms kyk ons dit mis. Soms voel ons nie meer die genade nie, want ons kyk na die ander dinge in die lewe, wat klaarblyklik meer waarde het. Intussen vra God eenvoudig: Kies my Seun, dan is al my genade joune.

Ds Anneline Geyer, Kempton Park-Oos