Jakobus 5: 7-10

Ongeduld is deel van die mens se lewe. Om te wag, kalm te bly en gemaklik te wees met tyd wat verby gaan, is moeilik. Geduldig wag is nie iets wat ons ken nie. Ons is haastig, wil onmiddellik reaksie hê, raak ontsteld as iemand te lank neem om ons te antwoord. Ongeduld en gejaagdheid is kenmerkend van ons lewensritmes.

Advent is ’n tyd van wag,  maar nie ’n leë en onaktiewe wag nie. Daarom kan ons leer by die boer wat geduldig moet wag van saai tot produk. Wag totdat die oes ryp is en gereed is om ingesamel te word. Die seisoene, tyd, weerpatrone, ontkieming en groei, kan nie aangejaag word nie. Die metafoor van die boer is ’n sinvolle inleiding tot die wag van Advent. Soos ’n boer geduldig moet wag, wat die proses nie kan versnel nie, is die wag beslis nie passief nie. Die oomblik is gevul met afwagting en nuuskierigheid oor dit wat gaan gebeur. Daar word geploeg, gesaai, geskoffel, en die weer word intens dopgehou. Die teks verwys na die waarde van die beloning wat die geduldige boer ontvang wanneer hy met vreugde die oes van die lande afhaal, maar dit verwys ook na die geduldige gelowige wat die wederkoms met groot vreugde sal beleef.

Daarom kan gelowiges leer by die natuur en boerdery wat geduldig moet wag vandat gesaai is totdat die oes ryp op die lande staan. Dit is die gelowige wag van Advent. Die opgewondenheid oor die koms van die Verlosser. Jakobus praat elke gelowige aan tot geduld met die oog op die wag op Christus se tweede koms, maar ook tot geduld met en aansporing van mekaar. Hoe vul gelowiges hul wagtyd sinvol? Hoe geduldig en ondersteunend is gelowiges teenoor mekaar met hul wag op die Here, hul wag in die teenwoordigheid van God? Advent is ’n tyd waarin ons herdenk wat en wie gekom het en aan die kom is. Advent behoort ’n tyd  in gelowiges se lewens te wees wat met gespanne geduld gevul is. Ons Verlosser kom weer.

Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth