’n Sewende entjie: Oorgawe (om oor te gee) is om die self holisties as geskenk aan God te gee. Hierdie oomblik van oorgawe is die beweging vanaf verbondenheid aan God na eenheid met God. Maria het hierdie oomblik ervaar toe sy in Lukas 1: 46-55 (AFR2020) haar loflied, My siel loof die Here…, uitgespreek het. So beweeg ons ook vandag nog van verborgenheid na eenheid met God wanneer ons in oorgawe die self (onsself) aan God as geskenk bied.
En Ek het die heerlikheid wat U aan My gegee het, aan hulle gegee, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is: Ek in hulle en U in My, sodat hulle volledig een kan wees en die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefgehad het, net soos U My liefgehad het (Joh 17: 22-23, AFR2020).
Wandel nou deur elke tree van jou bewuswording: stilwees, afsondering, verbondenheid, dienaarskap, in stilte en eenvoud, en met oorgawe. Wat ervaar jy wanneer jy in die teenwoordigheid van God kan wees?
Neem ’n oomblik om die gevoel ten diepste te ervaar, te verweef met die storie in jou kop oor jouself, en veral, die storie in jou kop oor God. In hierdie oomblik van oorgawe kan jy rus, kan jy krag vind, kan jy versterk word, en kan jy jou ore gebruik om te hoor wanneer die Here jou God ’n beurt kry om met jou in dialoog te wees.
Dr Pierre Jacobs (jr), Gaborone