Esegiël 37: 4-6

Ons samelewing herinner ons voortdurend dat individualisme en onafhanklikheid tekens is van ’n sterk persoon. G’n wonder ons is geneig om te dink ons het niemand anders nodig nie – soos ’n peuter wil ons eintlik skreeu: Ek kan self!

Terwyl Esegiël in die laagte staan en die toneel rondom hom aanskou, gee God vir hom ’n opdrag (vers 4): Tree op as profeet vir hierdie bene. Uit ’n menslike perspektief is dit ’n hopelose taak. Niemand sou Esegiël kwalik neem as hy verbaas was oor hierdie nuttelose opdrag nie. Enigiemand kan sien die beendere is dood.

So ook bevind ons ons soms in situasies wat hopeloos lyk. ’n Verhouding wat verbrokkel het, finansies wat nie wil uitwerk nie, drome wat sterf langs die pad. En dan vra God jou, soos Hy vir Esegiël gevra het, om Hom te vertrou. Ons het nie nodig om op ons eie insigte staat te maak nie; ons moet egter bereid wees om God te gehoorsaam. Die oomblik wanneer Esegiël doen wat God vra, sien ons hoe sowel die woord van God as die Gees van God lewe bring. Ons kan dit nie uit ons eie krag doen nie. Dit is die Gees van God wat mense in beweging laat kom, dit is Hy wat vir dooie bene, stukkende verhoudinge en gebroke drome weer lewe kan gee.

En dit is presies wat gebeur het. Esegiël was gehoorsaam aan God, hy doen wat God sê, al voel dit sinneloos – Esegiël sê vir die dooie bene hulle gaan weer leef. Die Here vervul hierdie belofte. Hy het sy Gees in die bene geblaas en hulle het weer gelewe.

Mag jy God se beloftes ken en dit genoeg vertrou sodat jy ook in situasies wat ons as hopeloos beskou, tog in geloof sal bly staan. Ek gaan my Gees in julle laat kom, en julle sal leef. Dan sal julle besef dat Ek die Here is.

Ds Yolandé de Lange, El-Flora