Esegiël 37: 10
Die laaste dag van die jaar vul ’n mens met dankbaarheid vir dit wat was en opgewondenheid oor dit wat voorlê. Ons oortuig onsself as’t ware dat oor minder as 24 uur die lewe meer rooskleurig gaan wees bloot omdat die laaste syfer van ons jaartal verander. As ons egter mooi daaroor nadink, gaan die nuwe jaar niks verander tensy ons verander nie. Want hoeveel keer bid ons sonder verwagting of wonder ons of God ooit luister? Ons is nie op God en sy liefde ingestel nie. Ons bid dat die nuwe jaar vir ons beter sal wees, maar bid ons waarlik vir ons geloof om nuut te word?
Die doodsbeendere in Esegiël se tyd het ook na Israel se doodsheid verwys. Die volk het nie meer ag geslaan op God se Woord nie, die volk het hul eie wil bo die wil van God geplaas, en hulle was geestelik dood. Dit is immers die Gees, wat reeds met die skepping lewe gegee het, wat die kerk skep. Dit is die Gees wat gelowiges bemagtig om God se kerk te wees. Die Gees vul ons met krag. Sonder die Gees – hoor ons in Esegiël 37 – is daar net droë bene.
Dit is belangrik om raak te sien dat hierdie nuwe lewe, nuwe moontlikhede, nuwe hoop, stelselmatig gebeur het… Eers het die beendere nader aan mekaar beweeg, daarna die senings, en vleis, later is die vel van bo af oor hulle getrek. Liggame sonder asem, want hulle was sonder God.
Mag God ons vul met sy Gees. Mag ons deur hierdie gedeelte in Esegiël geïnspireer word om in die nuwe jaar só naby die Here te lewe, dat ons inderdaad sal groei en leef in geloof. Mag hierdie nuwe jaar ook nuwe onderskeiding bring sodat ons die dinge wat God besig is om te doen, kan raaksien, en sodat ons ook die seën van God se teenwoordigheid kan ervaar.
Ds Yolandé de Lange, El-Flora