Matteus 3: 13
Matteus 5 bevat die bevel aan gelowiges om soos Jesus die lig in die wêreld te wees. Dit is egter nie die enigste bevel van dié natuur nie. Matteus 3: 13 lees as volg: Julle is die sout vir die aarde. Wat beteken dit om die sout van die aarde te wees? Sout is omtrent orals om ons, in ons spenskas en by elke restaurant waar ons gaan sit. Ons dink skaars aan die waarde van sout as ons dit gebruik of sien. Daarom is dit soms maklik dat die dieper betekenis van hierdie bevel verlore kan gaan.
In die antieke tye was dit anders. Die konteks waarbinne hierdie bevel deur Jesus gegee is en die gebruike van sout binne hierdie konteks het veroorsaak dat hierdie simboliese bevel baie gewig gedra het. Sout is besonders belangrik binne die raamwerk van kos preserveer en onder andere om smaak te gee. Wanneer die Bybel sê ons moet soos sout vir die aarde wees, kan ons dit verstaan as ’n bevel om die smaak van die evangelie met die wêreld te deel en mekaar te help om ons geloof te preserveer.
Kom ons rig vandag ons lewens op só ’n manier in dat diegene rondom ons kan getuig: Daar is ’n ander smaak aan haar/hom! En mag ons die vrymoedigheid beleef om dan van Jesus te getuig om die smaak van die evangelie te deel, dié Een wat ons lewens ’n ander smaak gee. Ons is geroep om waarde tot die aarde te bring deur Jesus. Hierdie waarde lê opgesluit in die feit dat ons aan die bevordering van die koninkryk van God deelneem. So vandag pas ons gister se vraag so bietjie aan: Vertolk ek die rol van iets anders in hierdie wêreld? Is ek terselfdertyd tyd die sout en terselfdertyd die lig?
Gebed
Genadige en liefdevolle God, dankie dat U ons genoeg vertrou om die smaak van die evangelie te kan deel met die wêreld. Mag ons waarlik die smaak wees in hierdie wêreld waar dit geurloos is. Amen.
Ds Iwana Kruger, Pretoria-Oos