2 Korintiërs 3: 18

Hoe leer ’n mens soms die maklikste van ’n ander kultuur of geloof? Meestal deur waarneming en dit is presies hoe mense ook soms van ons geloof leer! Die wêreld kyk na ons as gelowiges as hulle iets oor Christus wil leer, as hulle iets oor ons geloof wil leer. Hulle hou ons fyn dop en kyk hoe ons mekaar hanteer, hoe het ons genade met mekaar betoon, hoe het ons geduld met mekaar betoon en of ons liefde teenoor mekaar toon. Hulle let op of ons uitlewe wat vir ons geleer word.

Daarom is ons taak as gelowiges om diesélfde genade, geduld, en liefde wat ons vanaf Jesus ontvang ook aan die wêreld te toon. Hierdie eienskappe van die koninkryk van God is belangrik omrede ons geroep is tot ’n lewe wat tegelyk individualiteit eis, maar dit ook transendeer as ‘n gemeenskaplike lewe van gelowiges saam. Dit beteken dat alhoewel persoonlike groei belangrik is, is die gemeenskap van gelowiges vir ons net so belangrik en die bevordering daarvan.

Ons moet daarom genade, geduld, en liefde aan medegelowiges en die wêreld weerspieël wat ons vanaf God ontvang sodat mense in Jesus Christus sal glo as hoop vir die wêreld. Sodoende sal eenheid en vrede ’n kenmerkende glorie van Jesus se volgelinge wees. Soos wat ons hierdie dag aanpak, moet ons gedurig onsself vra: As iemand my heeldag fyn dophou, sal hulle deur my aksies en woorde kan agterkom dat ek ’n gelowige is? Is ek waarlik besig om dieselfde geskenke wat ek van God ontvang, vrylik aan dié rondom my uit te deel?

Gebed

U genade is eindeloos, u geduld onbegryplik, en u liefde groot. Help ons as gelowiges om hierdie geskenke wat ons vanaf U ontvang ook vrylik te skenk aan dié rondom ons. Lei ons soos wat ons ’n nuwe dag aanpak om beeldraers van U te wees sodat ons karakter en optrede van U getuig.

Ds Iwana Kruger, Pretoria-Oos