Jeremia 14: 1, 3-4 en 7-9 (AFR2020)

Droogtes is ook nie vir ons vreemd nie. Hierdie vertelling van ’n droogte begin so: Die woord van die Here kom na aanleiding van die groot droogte. Die noodkreet weerklink vanuit Jerusalem: daar’s nie water nie. In die stad stuur die vernames diegene in hul diens om water te gaan soek. Hulle keer terug met hul koppe wat bedek is as teken van droefheid. Hulle staan skaam en vernederd.

Misoeste gebeur. Die grond bars uitmekaar omdat dit so droog is. Gevolglik is daar geen kos vir mens en dier. Israel is in die knyp. Die profeet bely namens die volk hul sondeskuld en afvalligheid teenoor God.

Hoop van IsraelVerlosser in die tyd van nood… (Jer 14: 8), só roep die profeet God aan. Skielik stel Israel sy verwagting op die Here van wie hulle meermale vantevore hulp ontvang het. Hulle vra dat Hy nie so afsydig moet wees nie. Hoekom tree die Here só vreemd op? God is by magte om te help, maar dit lyk of Hy hom onmagtig hou. U is tog in ons midde Here, U naam is oor ons uitgeroep! Moet ons nie aan onsself oorlaat nie (Jer 14: 9). Hier midde die aanklag en swaarkry, kom dié herinnering. Daar is opregte verootmoediging, tog ontbreek boetvaardigheid.

Voor die koms van Christus, het God se straf op ongehoorsaamheid en afvalligheid anders gewerk. God stuur toe vir Jesus Christus na die wêreld. Hy kom toon God se Vaderhart (liefde). God is steeds elke dag in ons midde. Ons is steeds afhanklik van God en sy voorsienigheid. Hy sorg vir mens en dier. Immanuel: God met ons. Selfs in tye waar ons dalk oordeel dat Hy afwesig is.

Sy verborge heerlikheid is sigbaar vir oë van geloof. Kyk en leef, afhanklik en gehoorsaam aan God. Daardie teenswoordige heerlikheid bring ’n rustigheid oor ons daaglikse lewe.

Ds Kathleen Smith, Kaapstad