Johannes 13: 1-17

Ons verstaan mense beter as ons hul kultuur verstaan. In Suid-Afrika is dit byvoorbeeld ’n teken van respek om ouer mense oom of tannie te noem, selfs al is hulle nie familie nie. Vir iemand van ’n ander kultuur, soos ’n Amerikaner, kan dit vreemd of selfs onvanpas klink. Só maklik kan ons mekaar misverstaan as ons nie agtergrondkennis het nie.

Net so moet ons die kulturele konteks van die Bybel verstaan om werklik die skok te begryp toe Jesus sy dissipels se voete gewas het. In daardie tyd was voete vuil van sandale en stowwerige paaie. Dit was die werk van die laagste slawe – nie eens ’n Joodse slaaf nie, maar ’n heidense een – om voete te was vir gaste. En tog, Jesus die Here kniel en doen hierdie vernederende werk.

’n Mens wil amper sê dat dit onregverdig is. Hy weet Judas gaan Hom verraai. Hy weet Petrus gaan Hom verloën. Hy ken elkeen van die dissipels se swakheid, trots, selfbelang en gebrek aan lojaliteit. En tog was Hy hul voete met absolute liefde. Sonder oordeel. Sonder voorwaardes.

Dadelik wil ons amper sê: Maar hulle verdien dit nie. Hulle verdien nie dat Jesus hul voete was nie. Hulle verdien nie hierdie gebaar van liefde nie. Maar Jesus wys: Diens en barmhartigheid is nie iets wat jy gee as iemand dit verdien nie. Dit is iets wat jy doen uit liefde omdat jy Hom volg.

Wanneer Jesus die voete van sy dissipels was, was dit nie net stof wat Hy afwas nie. Hy wys vir hulle – en vir ons – wat nederigheid en ware liefde is. Hy stel ’n voorbeeld: Soos Ek vir julle gedoen het, moet julle ook doen (Joh 13: 5).

Om voete te was beteken nie altyd om met water en handdoeke fisies te was nie. Dit beteken om ander te dien – selfs dié wat dit nie verdien nie. Dit beteken om lief te hê, te vergewe, te dra, en te dien. Want Christus het dit eerste vir ons gedoen.

Ds Tanya Maartens, Klerksdorp-Wilkoppies