Psalm 37: 1-5 en 23-26
Ons hou daarvan om in beheer te wees van ons finansies en sukses asook ons huishouding. Sommer van ons lewe. Daar is niks wat die appelkar so gou omkeer as wanneer ’n dag of selfs die lewe nie uitspeel soos ons dit beplan het nie.
Dan lees ’n mens ’n psalm soos Psalm 37 wat sê: Laat jou lewe aan die Here oor (Ps 37: 5). Jy het lus om vir Dawid te sê dat dit nie so eenvoudig is nie. Hy ken nie ons omstandighede nie en sien nie hoe ver die Here van ons af is nie. Tog is daar niemand beter as Dawid om hierdie boodskap oor te dra nie, want hy het eerstehandse ervaring van God se nabyheid en genade.
Omdat jy in beheer wil wees, maak jy altyd planne en soek uitkoms. Ook wanneer dit met jou swaar gaan, wil jy alleen die stryd stry. Jy wil nie hê ander moet weet jy kry swaar nie, want swaarkry word dikwels geassosieer met swakheid. In jou swaarkrytye is jy baie keer ver van God af want jy is so besig om planne te maak, om ’n uitweg te soek en te stoei met jou omstandighede dat jy nie eers na sy wil vra nie. Jy soek konkrete sekuriteit en ’n tydlyn van hoe lank die sukkel of swaarkry gaan duur.
Tog, wanneer jy jou lewe aan die Here oorlaat en op Hom vertrou, het jy versekering wat vir jou van onskatbare waarde is. Sekuriteit wat geen geld vir ons kan koop nie. As jy gekonfronteer word met die gevolge van moord en doodslag, roof en geweld moet jy nie aanvaar dat die Bose tog maar sy sin gekry het nie. Jy moenie vir ’n oomblik glo dat jy weerloos staan nie Jy moenie in jou sukkeltye moed verloor of boedel oorgee nie. Nee, want dieselfde God wat lank gelede al vir die psalmdigter en deur die psalmdigter vir gelowiges gesê het: Laat julle lewe aan die Here oor, rig daardie selfde uitnodiging vandag aan jou,
Ds Marissa Kidson, Pretoria-Wes