Jesaja 58: 6-7
Tydens die Lydenstyd vas sekere gelowiges. Daar is verskeie maniere waarop gelowiges vas. Sommige pak dit aan deur net groente te eet of net sekere tye te eet. Ander vas weer deur sjokolade prys te gee of weg te bly van die koffiepot. Vas het waarde vir die persoon self. Elkeen kies om dit te vas wat vir hulle van waarde was omdat hierdie juis die groter betekenis dra.
Vas is daarom diep persoonlik en ’n saak tussen God en die gelowige. Party vas weer glad nie maar rig hul geloofsritme so in dat Lydenstyd werklik beleef en deurleef word. Ons rig hierdie tyd in soos wat ons enige ander tyd in die kerklike jaar inrig, ’n tyd en ritme tussen die gelowige en God.
In die teksgedeelte word God se mense aangespreek oor hul gebruike. Die teks wys uit dat die probleem nie by die feit lê dat hulle vas nie, maar dat hierdie vas nie werklik ’n impak het waar dit moet hê nie. Die handeling is dalk opreg, maar dit verander niks meer as die gelowige se gewone ritme nie.
Die beginsel wat die teks hier oordra is dat die uitlewing van ons geloof in geloofsritmes en ruimtes moet ’n uitvloei hê na die wêreld om ons. Die vraag kan dus gevra word: Dra jou kerkbywoning enigiets by tot jou gemeenskap? Of: Dra jou stiltetyd iets by tot jou werksomgewing?
Kerkbywoning, stiltetyd, vas en so meer is goed en gesonde ritmes. Let wel dat hierdie ritmes nie net kan stop in die ruimtes waar hulle gebeur nie, maar moet ’n uitvloei hê na die gemeenskap en wêreld om ons.
As die vas wat ons doen, die erediens wat ons bywoon of die stiltetyd wat ons hou ons nie betrokke maak waar dit werklik nodig is in ons gemeenskappe, werke of omgewing nie, het hierdie geloofsritmes ons nog nie ten diepste verander nie.
Ds Thomas Dreyer, Malelane