Bediening is vir my nie iets wat net op ’n Sondag gedurende die eredienste plaasvind nie. Dit is ’n lewensritme. Dit is mense, grondpaaie en kombuistafels, hospitaalkamers en kerkbanke wat al baie trane gesien het. My ervaring van bediening binne my gemeente het my geleer dat God se werk meestal stil en onopvallend gebeur, maar dat dit juis dáár die diepste spore laat.
Ek het van vroeg in my lewe reeds met die kerk kennis gemaak aangesien ek in ’n pastorie grootgeword het met ’n dominee as pa. Kerkklokke, vergaderings, eredienste en mense wat kort-kort by die pastorie instap, was deel van my alledaagse wêreld. Sonder dat ek dit besef het, het dit my gevorm lank voordat ek self kon besluit hoe ek oor kerk en bediening dink. Van kleins af het ek geleer dat geloof nie net in woorde bestaan nie. Ek het gesien hoe die kerk in stil oomblikke leef, ook in laat aande en in gesprekke wat swaar dra. Dit het my geleer dat bediening nie altyd mooi of netjies is nie. Dit is dikwels rou, soms ongemaklik en meestal stil. Maar juis daarin lê die diepte daarvan. Die kerk is nie ’n plek vir volmaakte mense nie, maar ’n ruimte waar gebrokenheid erken mag word.
Vandag as ’n vierdejaar-teologiestudent wat nog nie in die bediening is nie, ervaar ek my gemeente as ’n plek waar geloof konkreet geleef word. Hier leer ’n mens vinnig dat almal iets met hulle saamdra. Sommige dra vreugde, ander dra verlies, en baie dra vrae waarvoor daar nie maklike antwoorde is nie. Vir my beteken geloof nie om alles te kan verklaar of reg te praat nie, maar om staande te bly en om teenwoordig te wees wanneer dit ongemaklik raak en wanneer dit makliker sou wees om weg te draai.
Een van my gunsteling aspekte in die uitleef van my geloof is om werklik in mense se lewens betrokke te kan wees en ’n verskil te kan maak. Om by iemand te sit wat seer het, sonder om dit te probeer regmaak. Om saam stil te wees. Om saam te bid wanneer mense se woorde min is. Dit is in hierdie oomblikke dat ek telkens weer besef dat die kerk nie ’n gebou is nie, maar ’n liggaam. ’n Liggaam wat soms struikel en broos is, maar steeds saam bly stap.
Die erediens is vir my ook baie belangrik – nie as ’n program wat perfek moet verloop nie, maar as ’n ontmoeting met God waarin ek Hom eer betoon, die Een wat jou elke dag dra. Daar is iets besonders wanneer ’n gemeente saam sing, al is die stemme nie altyd suiwer nie. Dit is eg en dit is eerlik. Dit is in daardie oomblikke wat ’n mens weer besef dat ons deel is van iets groter as onsself.
Wat my diep raak, is hoe bediening en my teologiese studies ook my eie geloof vorm. Ek gee nie net nie, ek ontvang ook. Deur mense se getrouheid, hul volharding wanneer dinge swaar gaan, en hul bereidheid om steeds te glo wanneer die lewe anders loop as beplan. Dit wys my eie broosheid en my eie grense, en herinner my daaraan hoe afhanklik ek self van genade is.
Daar is dae wat swaar is. Dae van uitputting, onsekerheid en twyfel, wanneer ’n mens wonder of dit wat jy doen regtig saak maak. Maar dan is daar klein oomblikke wat alles weer in perspektief plaas. ’n Opregte dankie of iemand wat weer hoop vind en kans sien vir die lewe. Dit is nie groot suksesse nie, maar stille tekens van God se teenwoordigheid.
My ervaring in my gemeente het my geleer dat ware diens dikwels gebeur wanneer niemand dit raaksien nie. Ek is dankbaar om deel te wees van ’n gemeente waar mense mekaar dra en waar daar nie net oor geloof gepraat word nie maar waar geloof werklik geleef word. Dit is juis hier waar ek telkens weer onthou waarom bediening nie net ’n roeping is nie, maar ’n voorreg wat my lewe vorm en dra, en waar ek opnuut besef dat die kerk vir my as inspirasie dien om my roeping as God se kind uit te leef.
Hooffoto: At en ds Attie Hattingh