Toe Afrikaans verlede jaar sy honderdste bestaansjaar gevier het, was ek opreg opgewonde. In my eie gemeente het ons verskeie projekte aangepak om ons moedertaal te eer en te vier. Ons het in ons taal gebak, in ons taal gebrei, en in ons taal gebid. Ons het ons vaders en moeders in ons taal geëer. En vir my, persoonlik, was dit vanselfsprekend: ek preek in my taal.
Met hierdie fokus op moedertaal het ek egter opnuut besef hoe diep taal en geloof met mekaar verweef is. My eie geloofsreis het by die aanhoor van vroue se stemme begin. Dit was veral my ma en my ouma wat my leer bid het. Dit was hulle wat my op ’n baie vroeë ouderdom geleer het om die Bybel te lees. In hul woorde, dade en lewenswyse – en veral in hul vertelling van Bybelse verhale – het daar in my ’n brandende begeerte ontstaan om eendag self die Woord met ander te deel.
Ek was geseënd om deur stemme, manlik én vroulik, omring te wees, maar dit was veral vroue wat my leer bid het en my taalvaardig gemaak het. My moedertaal het die taal van my hart geword. Nooit het ek gevoel dat ek by die skool, in die kerk of later in my bediening nie met vrymoedigheid my stem mag gebruik om ander van die Here te vertel nie. Hy is immers my rots en my troos. Ek was gelukkig genoeg om nog nooit verhoed te word om in sekere ruimtes van Hom te getuig nie.
En tog weet ek dat dit nie vir alle vroue so is nie. Daar is steeds kerklike groeperinge en teologiese tradisies wat meen dat vroue nie mag preek nie, dat hul stemme beperk moet bly tot die huis, die kategeseklas of die Bybelstudiegroep. Dit is ’n standpunt wat my diep ontstel, nie net as vrou nie, maar as gelowige.
Ek kan eenvoudig nie insien hoe die stem van my graad een-juffrou wat elke oggend die dag met ’n Bybelverhaal begin het, wesenlik anders is as my stem van die preekstoel nie. Ek kan nie verstaan hoe my ouma se stem wat ’n Bybelstorie met gebed afgesluit het, minder waarde sou dra as ’n man se uitleg van dieselfde Woord nie. As God deur húl stemme aan my bekend gemaak is, waarom sou Hy Hom nie ook deur my stem aan ander bekend maak nie?
Wanneer ons vroue se stemme in die kerk stilmaak, ontken ons nie net hul roeping nie, maar ook ons eie geskiedenis. Die Bybel getuig self van vroue wat deur God geroep en gebruik is. Debora was ’n rigter en profetes wat Israel in ’n tyd van groot onsekerheid gelei het. Mirjam het saam met Moses en Aäron as leiers opgetree. Hulda, ’n profetes, is deur ’n koning geraadpleeg oor die wil van God. Hierdie vroue was nie randfigure nie; hulle was sentraal in God se heilsgeskiedenis.
En dan is daar Rut, die Moabitiese vrou wat met haar eenvoudige, maar kragtige woorde vir Naomi sê: U volk is my volk; u God is my God. Hierdie geloofsbelydenis weerklink al eeue lank in kerke regoor die wêreld. Rut het nie ’n amp beklee nie, maar haar stem dra gesag, omdat dit uit geloof gebore is.
In die Nuwe Testament word hierdie lyn voortgesit. Maria Magdalena word deur die opgestane Christus self gestuur om die goeie nuus aan die dissipels te verkondig. Sy word dikwels die apostel vir die apostels genoem. As Jesus self ’n vrou kies om die grootste nuus in die geskiedenis te verkondig, op watter grond kan ons vandag sê dat ’n vrou se stem nie van die kansel af gehoor mag word nie?
Wanneer iemand vandag vir ’n vrou sê: Jy mag nie … , hoor ek iets anders daaragter: Jou stem is minder werd. Maar hoe kan ons ’n stem stilmaak wat God self geroep het? Hoe kan ons die boodskap beperk wat Hy aan iemand toevertrou het, bloot op grond van geslag?
My moedertaal het my geleer dat woorde lewe dra. Dat geloof van stem tot stem en van hart tot hart oorgedra word. My moedertaal is die taal waarin ek liefhet, hoop, bid en glo. Dit is dié taal waarin ek die naaste aan God voel en as God my in hierdie taal geroep het om te verkondig, wie kan daardie roeping ontken?
Geen ruimte – of dit nou ’n kerkgebou, ’n tradisie of ’n kerklike struktuur is – mag ooit die stem stilmaak wat God losgemaak het nie. Die evangelie is nie gebind aan geslag, taal of mensgemaakte grense nie. Dit leef waar mense gehoor gee aan God se roepstem.
So wil ek vandag saam met Rut bely: As jou God my God is, mag ek ook my stem gebruik soos wat jy jou stem gebruik? Mag ek ook vertel van God wat vroue bemagtig het, wat hulle geroep en gestuur het om die goeie nuus te bring. God wat nie stilmaak nie, maar bevry. God wat nie uitsluit nie, maar insluit.
(Ds Mariët Robbertze is leraar in Gemeente Kempten)