Daar is twee Afrikaanse kerke wat die bediening in die hele Zambië behartig: die Dutch Reformed Church of Zambia (Lusaka), en die Dutch Reformed Church of Zambia (Nkana).
Die Dutch Reformed Church of Zambia (Lusaka) is gebaseer in Lusaka en bedien die suidelike deel van Zambië, vanaf Kabwe tot aan die grens by Botswana en Zimbabwe. Die Lusaka-kerk word ondersteun deur die NG Kerk, en die predikant is ds Wernel Nel.
Die Dutch Reformed Church of Zambia (Nkana) is waar my man, ds Peet Swanepoel, die bediening behartig. Ons kan byna nie glo dat ons al twee jaar hier werk nie. Met ons koms hierheen in Julie 2019 het prof Bieks Beukes vir ons ’n deeglike “inwyding” gegee. Ons het al die gemeentes besoek en Peet het by almal sy intreepreek gelewer. Ds Eksteen Botes het ons ook besoek en was by die intreepreek in Kitwe.
Met die intrapslag was ons oorbluf en verheug oor die hartlikheid van al die lidmate wat ons ontmoet het. Hul positiewe gesindheid was en is steeds een van die hoogtepunte van ons bediening hier.
Kitwe
Die pastorie, of ons “basis”, is in Kitwe, so ’n uur se ry van Ndola af, wat ons naaste internasionale lughawe is. Dit het gou vir ons duidelik geword dat die paaie en die verkeer van ons grootste uitdagings in Zambië sou wees. Die meeste van die paaie wat ons ry is goed, maar dan is daar paaie wat grens aan skrikwekkend.
My oorlede vader, Ben Botma, het na ’n vakansie in Namibië, destyds bekend as Suidwes-Afrika, dié opmerking gemaak: Vir die Suidwesters is afstand niks! Sy swaer, die bekende ds Kosie Viljoen, wat destyds vanaf Windhoek byna die hele “Suidwes” bedien het, het sy gemeentelede per vliegtuigie gaan besoek, en dit klink nogal na ’n goeie idee vir ons in Zambië! Met die tyd het ek en Peet, met die motor, gemakliker geraak met die roetes en soms onbegaanbare paaie, en die onophoudelike stroom voetgangers oral, en die bokke en die hoenders…
Die Afrikaanse kerk, ons plaaslike gemeente, het met die dienswerk van verskeie predikante gegroei, en God se Woord het vlamgevat en is versprei. Daar was ds Riaan Botha, ds Piet Rautenbach, en vir die laaste aantal jare prof Bieks Beukes. Veral laasgenoemde het reusewerk verrig hier in Zambië en ons werk baie makliker gemaak. Om hier in ’n vreemde land in jou eie taal te aanbid, is ’n voorreg, en al die lidmate is dankbaar om soos jy te dink, te praat en te droom, in jou eie taal God te kan loof en aanbid.
Kitwe is die grootste stad in die “Copperbelt”. Die kopermyne is die grootste werkverskaffer, met landbou ’n stewige tweede. Baie van die Suid-Afrikaners is ook deur die jare hierheen gelok deur die myne en die landbou. Behalwe die mynaktiwiteite, is hier talle besighede en Kitwe, soos trouens al die stede, is ’n miernes deur die dag en ’n groot deel van die nag. Hier is ook talle oorsese maatskappye en daar is ’n mengelmoes van tale en kulture.
Weens onderliggende “politiekery” het die grootste myn in Kitwe, Mopani, einde verlede jaar die meeste van sy mynbou-aktiwiteite gestaak, en baie moes terugkeer Suid-Afrika toe, of ander werk vind by van die ander myne in Zambië. Besighede sluit hul deure en ons getalle hier in Kitwe het met ten minste 30 lidmate gekrimp, maar God se werk eindig nooit en afgesien van dié wat moes teruggaan, is hier ons nog baie ander besighede, plase en entrepreneurs.
Hoewel ons getalle hier gekrimp het, gaan ons doodgewoon voort met ons werk. Ons hou elke Sondag erediens op ’n ander plek, en daar kom ook gereeld nuwe intrekkers wat soek na ’n geestelike tuiste hier in die vreemde. Baie is dan aangenaam verras as hulle agterkom hier is ’n lewendige Afrikaanse kerk. Ook nou tydens die pandemie word die evangelie van Jesus Christus onverpoos verkondig. Elke lidmaat oor die breedte van ons gemeente se gebied ontvang elke dag ’n oordenking op hul selfoon en elke Sondag ’n preek. Die oordenkings en preke word uitgestuur in Afrikaans en Engels, en die lidmate stuur dan die boodskappe na hul vriende en familie oral in die wêreld.
By Kitwe hou ons gereeld Bybelstudie, en spesiale eredienste soos vir Hemelvaart en Paasfees hou ons sommer in die pastorie se lowergroen tuin. Ons kuier en braai ook graag saam in die tuin. Kerkraadsvergaderings is ’n uitdaging, want daar is vyf preekpunte, wat elkeen sy eie ouderlinge en diakens het. Maar ons maak ’n plan en die kerkraad sien kans om ver te ry om ’n vergadering by te woon. Die verste preekpunt is 350 km ver. Om kerk te wees hier in Zambië is ’n uitdaging, maar dis ook ’n wonderlike avontuur. Ons het in die twee jaar al ses kinders gedoop en het ook al verskeie roudienste gehad.
Solwezi
Kitwe se eredienste is om 08:30, waarna saam verversings geniet word, en om 11:00 vertrek ons na Solwezi, ongeveer 300 km van Kitwe af in ’n noordwestelike rigting. Die diens in Solwezi om 18:00 word in die skoolsaal op die mynlandgoed gehou. Ons kon vir ’n jaar lank geen erediens in Solwezi hou nie, as gevolg van die Covid-maatreëls. Verblydend egter het die lidmaatgetalle glad nie gekrimp nie. Inteendeel, daar is mooi groei. 90% van ons lidmate in Solwezi werk vir die myn en bly op die myn se gholflandgoed. Dis ’n pragtige plek en daar is heelwat kleinwild te sien so tussen die putjies deur. Daar is ook ’n paar plaasboere wat boer met beeste, wild, neute en bessies. Van hierdie lidmate ry maklik 100 km om erediens by te woon (en 100 km terug).
Weens die uitsonderlike omstandighede is die lidmate nou by mekaar betrokke, en onderlinge byeenkomste en sosiale interaksie vind plaas. Soms word ver gereis om inkopies te doen, en die lughawe voorsien vlugte vir dié wat na Lusaka moet gaan om byvoorbeeld na Suid-Afrika te reis vir kuiers, gespesialiseerde mediese dienste en ander geleenthede.
Dit is ’n wonderlike voorreg om saam met hierdie mense die Here se Naam te loof en te prys. Ouderlinge en diakens, by al die preekpunte, is getrou aan hul roeping en hou die “gemeente” bymekaar. Nagmaal word gereeld gehou. Ons het begin met kategese en hier betrek ons die ouers om self die kategese te behartig. Ouers ontvang handleidings vir die spesifieke jaargroep, die kind ontvang die werkboek wat in oorleg met die ouer tydens die spesifieke jaar deurgewerk word. Die dominee werk self met die finalejaars, en as die Heer wil, sal ons einde 2021 ons eerste nuwe “belydende lidmate” aan die Kerk kan voorstel.
Kalumbila
Kalumbila is die derde preekpunt. Dit is ook ’n myngemeenskap waar koper ontgin word en is van dieselfde myngroep as Solwezi, so 200 km verder in ’n noordwestelike rigting. Eredienste is hier ook vir ’n jaar lank opgeskort as gevolg van die pandemie. Ons het in Mei die eredienste in Kalumbila hervat. Eredienste word gehou in lidmate se sitkamers, waarna ons lekker, soos ’n tipiese Hervormde gemeente, oor ’n koppie tee of koffie, met ’n ietsie in ’n piering, saamkuier. Ons hoop dat die getalle hier ook weer gaan styg. Ons is baie dankbaar dat die myne op Solwezi en Kalumbila nie noemenswaardig geraak word deur die politieke klimaat in die land nie.
Die mense werk baie hard, maar daar is ook groot rustigheid onder die lidmate. Die gasvryheid wat so eie aan Christene is, is uitsonderlik. Die onderlinge ondersteuning in lief en leed is iets wat ons altyd sal bybly. Ons kan net die Here loof dat ons die voorreg het om hierdie mense as deel van ons familie te beskou.
Die lidmate in Kalumbila is ook woonagtig op die gholflandgoed, met goeie fasiliteite en die mooiste gholfbaan en klubhuis. Die subtropiese aard van dié gedeelte van Zambië lewer altyd die lieflikste plantegroei en natuur op.
Mpongwe
Die vierde preekpunt is by Mpongwe, so 140 km van Kitwe af, in ’n suidelike rigting. Hier wissel die toestand van die paaie tussen goed en onbegaanbaar. Die gemeenskap in Mpongwe-gemeente is meestal saai-, koring- of lewendehaweboere. Hier is goedgevestigde boere wat vanuit Suid-Afrika en Zimbabwe hier kom wortelskiet het. Groot maatskappye, onder andere Zambeef, wat hoofsaaklik koring en mielies verbou, dra by tot die infrastruktuur en ontwikkeling van die nabye gemeenskap. Die lidmate is redelik wyd versprei en van hulle moet 60, 70 km ry om die erediens by te woon. En aan daardie 60 km ry jy soms twee en half uur. As dit gereën het, ry jy nog langer.
Eredienste hier vloei maklik oor in oornagkuiers en daar is selfs al gekamp langs die Kafuerivier. Watter belewenis om erediens te hou terwyl ’n visarend in die rivier duik en met ’n lieflike vis weer opstyg. Lofprysing kom dan sommer so uit jou hart uit, en jy het lanklaas so naby aan God gevoel!
By ander lidmate word eredienste in sitkamers, op stoepe en onder lowerryke bome gehou, afhangende van die weer. Ons kan nie uitgepraat raak oor die gasvryheid van ons mense nie, en die hartlikheid en die eerlike erbarming wat ons ervaar, is genade van Bo. Tydens ernstige siekte, hartseer, vreugdetye en feesviering, is daar geen ander plek waar ons wil wees nie. Die eredienste, die gebruik van die sakramente en die samesyn is heilige oomblikke.
Mkushi
Die vyfde preekpunt is Mkushi, so 250 km van ons pastorie af. ’n Groot gedeelte van die pad hier is die hoofpad wat regdeur Zambië loop, ons ry deur Ndola, en dit is seker van die slegste paaie wat ’n mens kan kry. By Kapiri Mposhi draai ons in ’n oostelike rigting. Hier begin die plantegroei ook anders lyk, en die stuk pad na Mkushi is gelukkig een van die beter paaie waarop ons ry. Dit is ook die pad Tanzanië toe. In hierdie wêreld is daar baie wild en heelwat natuurreservate, onder andere Kasanka, wat wêreldwye bekendheid verwerf het vir die grootste migrasie van soogdiere, naamlik vrugtevlermuise.
Die gemeenskap in Mkushi is hoofsaaklik ook mielie-, veral saadmielieboere; koring en soja word ook hier verbou, en daar is ook groot makadamiaboerderye. Bees-, vark- en skaapboere is ook volop. En daar is natuurlik ’n groot verskeidenheid wild.
Baie Zimbabwiërs wat vroeër jare hul plase moes verlaat , het hier kom wortelskiet, en hul kinders het ook nou al hul eie plase en gaan van krag tot krag. Die gemeenskap het self graansuiers en meule opgerig. Groot maatskappye soos Agri-vision is hier gevestig. Ander vakmanne soos dieselwerktuigkundiges en elektrisiëns is ook deel van die gemeenskap.
Die lidmate kom hier soos by ander preekpunte onder bome, op grasperke wat soos parke lyk of in sitkamers byeen vir eredienste. Onlangs het een van die plaaslike gastehuise, Loza, vir ons hul eetkamer aangebied. Ons oornag gereeld daar, indien ons nie by een van die lidmate wat ons uitnooi vir oorslaap, tuisgaan nie.
Na elke erediens is daar, soos gewoonlik, ’n groot bederf, en dié wat dalk vir middagete wil oorbly en saamkuier, bly soms tot laatmiddag en geniet mekaar se geselskap.
Lief en leed by al die preekpunte is prioriteit en almal dra mekaar se belange op die hart. Ons het al Kersfeesdienste, doopgeleenthede, Nagmaal en lofprysingsdienste hier gehou. Die Here is voorwaar goed vir ons en Hy seën met ’n oorvloed van liefde en genade!
Algemeen
Ons Kerk hier is onlangs amptelik geregistreer as die Dutch Reformed Church of Zambia (Nkana). Die voertaal van die Kerk is Afrikaans en al die eredienste is in Afrikaans, hoewel soms tweetalig, aangesien heelwat Engelssprekendes by ons aangesluit het. Daarom word al die daaglikse oordenkings en elke Sondag se preek ook in Engels vertaal en uitgestuur. Die boodskappe en preke word ook na familie en vriende oorsee aangestuur. Die evangelie in Zambië het, soos op baie ander plekke in die wêreld, vlerke gekry. Die pandemie het grense laat verdwyn…
Toe die Covid-virus die wêreld tref, hier teen Maart verlede jaar, het ons so gesit en gesels en besef baie mense kan nie kerk toe kom nie, of by hul medegelowiges bemoediging kry nie. Peet het toe begin om daagliks, Maandag tot Vrydag, ’n dagstukkie, en ook elke Sondag ’n preek, uit te stuur aan die lidmate by al die preekpunte in Zambië. Dit het gegroei en daar is ook al ’n buitelandse groep. Daar word ook gou navraag gedoen, selfs uit Engeland en Lesotho, as die boodskap laat gestuur word. Ons moes al verskeie kere hoor: Preek die dominee dan nie vandag nie?
Ons ervaar hier in Zambië Kerkwees sonder grense! Enigiemand wat die evangelie in Afrikaans wil hoor, is welkom om by ons aan te sluit. Dit maak nie saak van watter kerkverband jy is nie, en selfs nie of jy aan enige kerk behoort nie, almal is welkom by ons. Maar al praat ons Afrikaans, sluit ons nie Engelssprekendes uit nie, en dit gebeur dikwels dat Engelssprekendes ons eredienste bywoon, en dan preek Peet maar tweetalig!
Om die Here se Naam uit te dra, om in sy koninkryk te werk en dit te help uitbou, en getrou te bly aan sy Woord, is die grondslag van ons dienswerk in die noorde van Zambië, hier in Afrika.
Ons getuig ook met groot dankbaarheid van die getroue ondersteuning van die Nederduitsch Hervormde Kerk en veral van die ring van Lydenburg.
Naskrif van ds Peet
Dit is vir my en Daleen ’n geweldige voorreg om hier te dien. Ten spyte van al die ontberings, is dit ’n avontuur wat ons vir geen geld in die wêreld sal prysgee nie. Wat dit vir ons oor en oor die moeite werd maak, is die mense hier in Zambië. Dit is ongelooflike hartsmense – dis ons mense!
Natuurlik sou dit hier in Zambië nie vir my moontlik gewees het sonder Daleen nie. Van haar wil ek aanhaal uit Spreuke 31: 31 (AFR2020): Gee aan haar ’n deel van die vrug van haar hande; mag hulle haar in die stadspoorte vir haar dade prys!
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)