In kerklike wandelgange en in die konsistorie word daar deesdae saggies – en soms benoud – gefluister oor kunsmatige intelligensie (KI). Vir baie lidmate en predikante roep die term beelde op van wetenskapfiksie-rolprente waar masjiene die wêreld oorneem. Daar is ’n vrees vir die onbekende: Gaan rekenaars ons preke skryf? Gaan die menslike element uit pastorale sorg verdwyn?

Dit is egter nodig dat ons verby die vrees en die hype kyk. As gereformeerde gelowiges moet ons vra: Wat is hierdie nuwe verskynsel, en hoe pas dit in by ons roeping as rentmeesters van God se skepping?

Ons vorm ons gereedskap, en daarna vorm dit ons

Daar is ’n diep waarheid in die woorde wat aan die mediataalkenner Marshall McLuhan toegeskryf word: We shape our tools and thereafter they shape us.

Dink aan die uitvinding van die boekdrukkuns. Dit was aanvanklik ’n blote stuk tegnologie, ’n instrument. Maar daardie instrument het die Reformasie moontlik gemaak en die Bybel in die volkstaal bevorder. Dit het verander hoe ons glo en hoe ons kerkwees verstaan. Die hamer vorm die hand wat hom vashou; die slimfoon verander die manier waarop ons aandag gee.

KI is in hierdie sin nie ’n vreemde indringer nie, maar die nuutste in ’n lang ry van menslike uitvindings. Dit is deel van die kultuuropdrag in Genesis 1: 28 – die mens se vermoë om orde uit chaos te skep. Maar juis omdat gereedskap ons vorm, is die etiese vraagstuk rondom KI die belangrikste gesprek wat ons tans kan voer. As ons KI as ’n afgod sien, vorm dit ons in luiheid. As ons dit as ’n bedreiging sien, vorm dit ons in vrees. Maar as ons dit as ’n instrument in diens van die Koninkryk sien, kan dit ons vorm in groter effektiwiteit en diensbaarheid.

Van tikmasjien tot taalmodel: Die MS Word-analogie

Wanneer ek vandag my rekenaar oopmaak om ’n preek te skryf, gebruik ek sagteware soos Microsoft Word. Indien ek ’n spelfout maak, trek die rekenaar ’n rooi strepie. As ek ’n beter woord soek, gebruik ek die tesourus-funksie. Niemand in die kerk sal my daarvan beskuldig dat ek oneties optree of dat die rekenaar my preek skryf nie. Ons aanvaar dit as ’n hulpmiddel wat kommunikasie verbeter.

Dieselfde geld vir PowerPoint. Ons gebruik dit om die boodskap visueel te versterk. As daar egter ’n feitefout op die skyfie is, kan ek nie die projektor blameer nie.

Ons moet KI op dieselfde manier sien. Dit is nie ’n towenaar nie; dit is ’n uiters gesofistikeerde weergawe van die rooi strepie in MS Word. Dit kan data verwerk, taal struktureer en patrone vinniger herken as enige mens. Die etiese vraag lê nie in die gebruik van die programmatuur nie, maar in die hart van die gebruiker.

Die etiek van eienaarskap

Die kern van die etiese debat gaan oor verantwoordbaarheid. Ek het onlangs na ’n spreker geluister wat die standpunt gestel het: As jy KI as ’n assistent gebruik, kan jy nooit sê: Die KI het dit vir my gemaak nie. Jy moet volle eienaarskap neem van die resultaat.

In die bediening beteken dit: As ek KI gebruik om my te help met eksegese of navorsing, bly ek die predikant. Die oomblik wat ek daardie inhoud aan die gemeente voorhou, word dit my woorde. Ek moet pa staan vir die waarheid daarvan. Om KI te gebruik om luiheid te masker, is bedrog. Maar om KI te gebruik om jou tyd en talente te vermenigvuldig sodat jy beter aandag aan jou kudde kan gee? Dít is rentmeesterskap.

Innovasie in die NHKA: Van teorie tot praktyk

Hierdie filosofie van verantwoordelike rentmeesterskap is nie net teorie nie; dit word reeds binne die NHKA prakties uitgeleef deur die SGB se portefeulje vir Innovasie in Bediening.

Hierdie portefeulje wat tans uit myself, ds Andre Swanepoel (Gemeente Derde Kruis) en oudl Wykus Louw (Gemeente Witfield) bestaan, werk vanuit ’n spesifieke vertrekpunt: Ons begin by die behoeftes wat in die bediening bestaan, en soek dan na maniere om gereedskap met KI te skep wat daardie behoefte kan aanspreek.

Die vrug van hierdie werk is reeds sigbaar op die platform dramekaarselaste.co.za:

  1. Preekhulp en navorsing: Ds Swanepoel het ’n diepgaande toepassing ontwikkel wat as ’n navorsingsassistent dien vir die saamstel van teologies en hermeneuties verantwoordbare preke. Dit is nie ’n preek-generator wat die predikant vervang nie, maar ’n eksegetiese vennoot wat die predikant bemagtig. Hierdie module word binnekort as ’n onderafdeling van die DraMekaarSeLaste-platform geïntegreer.
  2. Geloofsonderrig: In samewerking met die werkgroep vir Jeugbediening, en met die hulp van ’n groep van tien vrywilligers vanuit die 74ste AKV, is ’n nuwe model vir geloofsonderrig ontwikkel wat reeds op DraMekaarSeLaste beskikbaar is.
  3. Opleiding en toerusting: Oudl Louw speel ’n sleutelrol as toetser en bouer van e-leerkursusse. Ons het reeds gereedskap geskep vir gemeentelike pastorale sorg, sowel as toerusting vir kinders, ouers en kerkrade.
  4. Administrasie en uitreik: Die platform bied nou selfs ’n aanlyn verkoopswinkel (e-handel) vir gemeentes, sowel as begeleiding vir missionale uitreik na gemeenskappe.
  5. Die doel is eenvoudig: Die tegnologie moet die hande van die kerk sterker maak om die laste van die wêreld te dra (Gal 6: 2).

Virtualiteit en ekklesiologie: Is aanlyn eg?

Om die rol van KI en digitale platforms soos DraMekaarSeLaste reg te verstaan, moet ons ’n belangrike teologiese wanopvatting uit die weg ruim: die idee dat die virtuele wêreld vals is en die fisiese wêreld eg is.

In my navorsing wat in HTS Teologiese Studies gepubliseer is, het ek die verhouding tussen virtualiteit en ekklesiologie (ons leer oor die kerk) ondersoek. Ons maak dikwels die fout om te dink virtueel beteken denkbeeldig. Maar die woord kom van die Latynse virtus, wat krag of potensiaal beteken.

Die kerk se wese lê nie in bakstene of kerkbanke nie, maar in die koinonia – die gemeenskap van gelowiges wat deur die Gees aan mekaar gebind is. Hierdie gemeenskap kan haarself op verskillende maniere manifesteer. Wanneer KI ons help om ’n stelsel te bou wat ’n siek lidmaat identifiseer en die kerkraad in kennis stel, vind daardie proses in die virtuele ruimte (die wolk/rekenaar) plaas. Maar die effek daarvan is werklik. Die liefde wat betoon word, is werklik.

KI en digitale platforms skep ’n ruimte vir die kerk om te funksioneer. Dit vervang nie die fisiese samekoms nie, maar dit versterk die netwerk van verhoudings wat die kerk is. As ons ekklesiologie slegs beperk tot dit wat Sondagoggend in ’n gebou gebeur, mis ons die geleentheid wat tegnologie bied om die kerk te wees in die alledaagse lewe van mense. KI help ons om die virtuele potensiaal van die gemeente te omskep in werklike daadkrag. Die vraag is dus nie of ’n digitale hulpmiddel teologies geldig is nie, maar of dit die gemeente help om haar roeping in die wêreld beter uit te leef.

Inkarnasie versus simulasie

Ten slotte moet ons onthou dat KI in die wêreld van simulasie funksioneer, terwyl die kerk in die wêreld van inkarnasie leef. ’n Rekenaar kan ’n gebed genereer, maar dit kan nie bid nie. Dit het geen siel nie. Pastorale sorg is ten diepste ’n geïnkarneerde aksie – dit vereis ’n mens, ’n liggaam en ’n hart. Daarom sal KI nooit die predikant of die kerkraad vervang nie.

Praktiese wenke vir die gebruik van KI

Vir diegene wat nuuskierig is om die waters te toets, hier is ’n paar riglyne:

  • Leer en luister: Ek het reeds ’n aanlyn kursus in KI in Bediening aangebied wat beskikbaar is in DraMekaarSeLaste se Geloofsgroei Akademie. Dit is ’n goeie wegspringplek.
  • Privaatheid eerste: Die goue reël van KI is vertroulikheid. Moet nooit persoonlike inligting (name, adresse, sielsorgbesonderhede) van lidmate in ’n openbare KI-platform soos ChatGPT tik nie.
  • Sluit aan by die gesprek: Soek na forums en gespreksgroepe oor die gebruik van KI in opleiding en bediening. Moenie in isolasie werk nie.
  • Verifieer alles: Onthou, KI kan hallusineer (feite opmaak). Behandel die uitset soos die werk van ’n ywerige maar onervare student – kontroleer elke teksverwysing en feit.
  • Begin klein: Gebruik KI eers vir administrasie (e-poskonsepte, speltoetsing, idees vir ysbrekers) voordat jy dit vir meer komplekse teologiese take inspan.

Enige iemand wat deel wil wees van hierdie opwindende ontwikkelingsprojekte of meer wil weet, is welkom om my te kontak by deon7373@gmail.com. Kom ons wees nie bang vir die gereedskap nie. Kom ons vorm dit, sodat dit ons kan help om die kerk te vorm wat die wêreld nodig het.

(Dr Deon du Toit is leraar in Gemeente Pierneef en dosent by die Hervormde Teologiese Kollege)