Angstige Anna van Anysspruit vra: Beste Oupa Stoep, my eggenoot is nou al vir baie jare ’n ouderling in ons gemeente. Ons ouderlinge sit nog in die ouderlingsbanke en dis nou waar die moeilikheid begin. Ek is nie daar langs my dierbaarste man om hom in die ribbes te pomp as die slaperigheid hom tydens die erediens begin oorval en hy dan kliphard begin snork nie. Hy snork so erg dat die babas in die moederskamer begin huil, maar niemand doen iets daaraan nie. Die laaste ouderling wat gewaag het om aan my man se baadjie te pluk se vals tande is nou nog soek na my man vir hom ’n dwarsklap gegee het. Help asseblief!
Beste Anna, vandag het jy by die regte adres uitgekom! Sien, Oupa is ’n snorker van formaat, soveel so dat Oupa al genader is om klasse op nagraadse vlak oor snork aan te bied. Oupa illustreer graag met ’n ware gebeurtenis. Oupa en ’n klomp vriende het tussen die duine op ’n Kalahari-plaas gekuier. Almal het in tente geslaap. Ná die eerste nag word Oupa wakker van ’n gewerskaf. Hy sien toe dat die persoon wat naaste aan hom geslaap het, sy goed opgepak het en, met sy koepeltent soos ’n skilpad se dop op sy rug, omtrent een kilometer verder die duine in koers gekies het. Hy het geoordeel dat hy daar buite die reikwydte van Oupa se snorkgeluide sou wees.
Nadat Oupa se snorkery tannie Oupa se derde stel oorpluisies tot stof verniel het, het sy aangedring dat Oupa professionele hulp soek. Dit was een van die beste dinge wat met Oupa gebeur het. Oupa is na ’n slaapkliniek waar hulle vasgestel het dat Oupa aan slaapapnee ly. Buiten die lawaai wat dit veroorsaak, hou hierdie toestand ook erge gesondheidsrisiko’s in. Jou hele liggaam verkeer onder stres omdat hy nie genoeg suurstof kry nie omdat die snorker te min suurstof gedurende die nag inneem. Dit lei ook daartoe dat die snorker nie behoorlik rus nie en elke dag doodmoeg opstaan.
Eers toe die simptome aan Oupa verduidelik word, het hy besef watter geweldige impak dit op sy lewe gehad het. Gelukkig was daar vir Oupa raad. Hy is uitgereik met wat tannie Oupa sy snorkmasjien noem. Dis ’n masjien wat deur ’n masker op Oupa se gesig ’n konstante stroom lug blaas wat op een of ander wonderbaarlike manier die snorkery hokslaan. Dié masjien het letterlik Oupa se lewe verander. Nie alleen het Oupa weer die energie van ’n jong proponent nie, maar tannie Oupa is skielik baie meer liefderik omdat Oupa so geluidloos slaap.
Die masjien het nog ander voordele ook. Oupa gebruik dit as ’n dief afweringstelsel. As Oupa ’n geluid in die huis hoor, dan hou hy net ’n flitslig onder sy gesig met die masker op. Die diewe het al drie nuwe buitedeure gemaak soos hulle weggehardloop het na hulle dié gesig gesien het.
Oupa is ook bewus van die risiko’s daaraan verbonde om met ’n snorkmasjien te slaap. Een van Oupa se vriende het ook so ’n masjien gekry en het syne op die mat langs die bed staangemaak omdat daar nie op die bedkassie tussen die Vicks, sy bril en die glas met sy valstande plek was nie. Waarmee hy nie rekening gehou het nie, was dat die masjien toe reg langs Vlekkie, hul geliefde Jack Russel, se slaapplek gestaan en werk het. So was Vlekkie een aand erg winderig na die bakkie boontjiesop wat sy vir aandete gekry het. Dié winde is deur die snorkmasjien ingesuig, gekonsentreer en deur die geslote sisteem van die masker aan Oupa se vriend toegedien. Die vriend het glo na bewering vir twee weke kort-kort op die grond gespoeg.
So, liewe Anna, daar is hulp en raad vir jou man se snorkery. Kry vir hom ’n masjien, maar kyk tog mooi waar julle die masjien staanmaak!