Markus 8: 36
Jesus stel ’n eenvoudige maar radikale vraag: Wat help dit ’n mens om die hele wêreld te wen, maar sy siel te verloor? Dis ’n vraag wat elke geslag moet beantwoord en miskien is dit vir ons vandag moeiliker as ooit.
In ’n wêreld waar prestasie, beeld en invloed baie werd is, is dit maklik om te dink dat jy vorentoe beweeg, terwyl jy in werklikheid agteruit gaan. Jy klim die leer van sukses, maar eers bo besef jy die leer was teen die verkeerde muur geleun. Jy wen die wêreld, maar verloor jouself, nie oornag nie, maar stadig maar seker, stukkie vir stukkie.
Jesus vra hierdie vraag nie om skuldgevoelens by ons op te wek nie, maar om ons wakker te maak. Want ons het soveel wat ons siel kan steel – werk wat ons identiteit steel, verhoudings wat ons integriteit kos, drome wat God se roeping versluier. En ons besef dit eers wanneer ons geestelik leeg voel, soos iemand wat alles het, maar tog niks het nie.
Wat beteken dit om jou siel te verloor? Dit beteken jy verloor jou kern, jou verhouding met God, jou geworteldheid in dit wat ewig is. En wat beteken dit om jou siel te red? Om te leef vanuit die wete dat jy aan God behoort, nie aan jou eie sukses, of aan ander se goedkeuring nie.
Dis waarom die Lydenstyd so nodig is. Dit help ons om te vra: Waar lê my hart? Wat soek ek regtig? Is ek besig om te wen op maniere wat my in die einde armer laat staan?
Jesus wil nie hê jy moet minder word nie. Hy wil altyd hê jy moet werklik leef, nie net asemhaal nie, maar floreer. En dit begin wanneer jy Hom volg, selfs as dit jou iets kos.
Gebed
Here, U weet wat my hart bekoor. U weet hoe ek probeer om die wêreld te wen. Leer my om my siel by U te vind en om niks minder as genoeg te beskou nie. Amen.
Ds Rue Hopley, Pretoria-Oos