Op 23 Februarie 2026 het die bekende Suid-Afrikaanse verhoog- en televisiepersoonlikheid, Ian von Memerty op die ouderdom van 61 jaar sy lewe beëindig in ’n Johannesburgse hotel. Wat sy dood uniek maak, is die openheid waarmee hy in die aanloop daartoe daaroor gepraat het. Deur sy reeks Facebook- en YouTube-videos, getiteld Dying for a Better Life, het Von Memerty sy besluit as self-bevryding (self-deliverance) beskryf. Dit was ’n bewuste keuse vir ’n beter lewe bó ’n lewe van swaarkry en lyding as gevolg van hoë ouderdom, finansiële laste en ’n verlies aan lewensdoel. Hy het geweier om sy daad selfdood te noem. Sy heengaan het ’n vraag by my laat ontstaan: Is lewe ’n opdrag, ’n voorreg, of ’n keuse? Hoe reageer ons teologies hierop?

Von Memerty se besluit was nie ’n impulsiewe en desperate aksie van iemand in ’n krisis nie. Hy het 18 maande lank navorsing gedoen, beplan en sy gesin voorberei op sy komende dood. Hy verklaar dat sy besluit nie deur depressie gemotiveer is nie, maar deur ’n diepe bewus wees van sy vrye keuse om sy eie lot te bepaal. Hy wou juis hierdie vryheid tot keuse beklemtoon. Hy was oortuig dat sy keuse die regte keuse vir hom was. Tog bly die vraag: Kan ’n mens om te lewe as slegs nog ’n opsie sien?

Vanuit ’n Bybelse perspektief is lewe nie bloot ’n biologiese verskynsel nie, maar ’n Godgegewe gawe. Die profeet Bileam, gekonfronteer deur die grootheid van God, roep in Numeri 24: 23 (AFR83) uit: “Wie kan in die lewe bly as God dit nie so bepaal nie?” Hierdie uitroep erken dat lewe ’n Goddelike werklikheid is wat die mens se verstand te bowe gaan. Dit is nie ’n besitting wat ons na goeddunke kan opgaar of weggooi nie, maar ’n waardevolle geskenk uit die hand van die Skepper. Die implikasie is duidelik dat om te lewe ’n voorreg is wat God aan mens en dier gee.

Deuteronomium 30: 19 (AFR83) bevestig die gawe van die lewe nog duideliker wanneer Moses die volk Israel aanspreek: Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe. Hier is lewe nie outomaties ’n vanselfsprekende werklikheid nie – dit moet aktief gekies word. Maar is die keuse net ’n keuse vir ’n fisiologiese lewensbevestigende bestaan, of ’n keuse vir ’n ootmoedige bestaan voor die aangesig van God? Om te kies vir die lewe is nie om die dood te probeer ignoreer nie. ’n Keuse vir die lewe is ’n keuse om onder alle omstandighede voor die aangesig van God te wandel, in lewe en in sterwe.

In Deuteronomium 32: 39 (AFR53) spreek God self: Aanskou nou dat dit Ek is en dat daar geen god naas My is nie; Ek maak dood en Ek maak lewend, Ek het verbrysel en Ek genees; en daar is niemand wat uit my hand red nie. Hierdie tekste verklaar ondubbelsinning dat lewe en dood binne die domein van God val. Die mens, geskep deur God, is nie die finale outeur van sy eie bestaan nie.

Wanneer Paulus vir die Grieke van sy tyd van sy God vertel, verklaar hy dat dit die God is wat alles gemaak het (Hand 17: 24), wat aan almal en alles lewensasem gee (Hand 17: 25), wat bepaal hoe lank ’n mens lewe (Hand 17: 26). Dit is God wat ons gemaak het om na Hom te soek, en al sukkel ons daarmee, is Hy inderwaarheid nooit ver weg van ons af nie (Hand 17: 27). En dan verklaar Paulus hoe ons hele bestaan teosentries is, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (Hand 17: 28, AFR83).

Word die mens net deur die feit dat ek asem haal en fisiologies bestaan, gedefinieer? Is ek net ’n mens solank ek asemhaal (homo vitalis)? Wat definieer my bestaan? Is ek nie wat ek is op grond van wat ander mense van my sal onthou as ek nie meer hier is nie (homo memorabilis)? Hou ek op bestaan die dag as ek ophou asem haal op aarde? Lewe en beweeg en bestaan ek nie voor God, ook anderkant die grense van hierdie aardse bestaan nie? Wie ek is, word nie gedefinieer deur my fisiese teenwoordigheid op aarde nie. Ek is, nie omdat ek gekies het vir die lewe nie, maar omdat God vir my gekies het. Daarin is ons enigste troos in lewe en in sterwe, dat ek aan my Heer Jesus Christus behoort, … in lewe en in sterwe (Heidelbergse Kategismus, Sondag 1, Vraag en Antwoord 1).

Nogtans moet ons eerlik wees oor die kompleksiteit van Von Memerty se situasie. Hy het werklike lyding geken – finansiële verknorsing, die verlies van ’n dogter, die vervaging van ’n lang suksesvolle loopbaan. Hy het gesien hoe sy ouers stadig en pynlik gesterf het, en wou nie dieselfde lot ondergaan nie. Hierdie is menslike ervarings wat nie ligtelik afgewys kan word nie. Die vraag of medies-gesteunde sterwe onder sekere omstandighede eties regverdigbaar is, is ’n ernstige debat wat in baie lande gevoer word. Tog is daar ’n wesenlike verskil tussen ’n terminale pasiënt wat pynverligting soek, en ’n gesonde persoon wat lewensmoegheid beleef.

Ons aanbid nie die lewe nie. Ons aanbid die Gewer van die lewe. Ons identiteit lê in Christus. In lewe en in sterwe behoort ons aan Hom.

Lewe is dus tegelyk opdrag, voorreg én keuse – maar nie in gelyke mate nie. Dit is ’n voorreg omdat miljoene dit nie ontvang nie. Dit is ’n opdrag omdat God wat lewe gee, ook die grense daarvan bepaal (vergelyk Hand 17: 26). En dit is ’n keuse in die sin dat ons daagliks moet kies hoe ons lewe – met hoop, met moed, met geloof; nie bloot net of ons lewe nie. Die nalatenskap van Ian von Memerty is ’n oproep tot dieper gesprekke, ook binne die kerk, oor pyn, ouderdom, waardigheid en sosiale ondersteuning. Hoe dien kinders van die Lewende God mekaar terwyl ons lewe – met omgee en empatie? Mag ek daarvoor onthou word.

 

(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)