Eksodus 3: 7-8

Wanneer jy ’n heuwel moet uitstap of uitdraf, moet jy nie te ver op die pad voor jou uitkyk nie, want dan sal jy dalk mismoedig maak. Kyk eerder na die grond reg voor jou voete, en voor jy dit weet sal jy bo-op die kruin van die heuwel wees. Dis die raad wat mense dikwels gee oor heuwels wat ons in die lewe moet oorkom.

Op die pad agter Jesus aan – die pad waarop ons nou loop tydens die Lydenstyd – die pad na Jesus se kruisiging toe, word ons egter uitgenooi om ons oë te lig voor ons voete uit en die mense wat ons op hierdie pad aantref raak te sien. In die Eksodus-verhaal lees ons hoe die uittog uit Egipte begin het. Dit begin met ’n God wat bereid was om die benarde situasie waarin die Israeliete was raak te sien, hulle noodkrete te hoor, kennis te neem van hul lyding en na hulle toe af te kom om hulle te bevry. Hoor jy die werkwoorde wat hier oor die Here gebruik word? Die Here het gehoor, gesien, kennis geneem en afgekom.

Is dit nie ook waartoe ek en jy geroep word op hierdie pad agter Jesus aan nie? Die versoeking is baie groot om die grond dop te hou voor ons voete sodat ons as’t ware onbewus op hierdie pad kan loop, maar Jesus leer ons dat die pad agter hom aan nie ’n oogklappad is nie. Die pad agter Jesus aan na sy kruisiging toe is juis ’n pad waar ons die nood van mense behoort te sien, waar ons die noodkrete van mense in nood behoort te hoor, waar ons kennis behoort te neem van mense se noodsituasies en waar ons behoort af te kom om daar diensbaar te gaan wees. Jesus het nie net volstoom met sy dissipels geloop na Jerusalem toe nie. Nee, hy het langs die pad mense genees en mense in hulle nood raak gesien.

Mag ons leer om die pad agter Jesus aan bewustelik te loop.

Ds Steve Oxton, Wapadrant