Markus 11: 12-26

Vrugte wat in seisoen is proe nou maar eenmaal beter as vrugte buite hul seisoen. Vrugte wat in seisoen is se smaak en tekstuur is net heelwat beter as vrugte buite hul seisoen. Ons ken vrugte buite seisoen. In die tye waarin ons tans leef kan ons heel jaar lank aan ons gunsteling vrugte smul, al is hulle nie meer in seisoen nie.

In Jesus word ons egter van ’n ander feit bewus. In Markus 11 lees ons van die vyeboom waarby Jesus en sy dissipels geloop het wat nie vrugte gedra het nie. Hierdie verhaal omring die verhaal waar Jesus die tafels van die geldwisselaars en die stoele van die duiweverkopers omgekeer het. Ons weet dat hierdie toebroodjieverhaal van Markus eintlik nie oor die vyeboom gaan wat nie vrugte gedra het nie, maar oor die tempel wat nie hul geleentheid gebruik het om vrugte te dra nie. Vir die vyeboom was daar (ten minste) ’n rede om nie vrugte te dra nie want dit was nie vyeseisoen nie.

En die tempel? Watter verskoning het die tempel gehad om nie vrugte te dra nie? Die mense wat op daardie stadium diens in die tempel gedoen het, het een belangrike waarheid nie besef nie: In die tempel, die plek wat die Here se teenwoordigheid op aarde verteenwoordig is, is daar nie iets soos seisoenale vrugte nie.

Die oomblik wanneer ons besef dat ons in die strome lewende water geplant is wat vloei uit die hart van die Here uit, kan ons nie anders as om voortdurend vrugte te dra nie. Die vrugte is nie daar vanweë ons eie toedoen nie, maar slegs omdat ons die voorreg het om in die stroom water geplant te wees wat uit die hart van die Here vloei. Ons vrugte kan daarom nie seisoenaal wees nie.

Mag ons op die pad agter Jesus aan bewus wees van die water waarin ons geplant is, en mag ons daarom die tipe vrugte dra wat hiervan getuig.

Ds Steve Oxton, Wapadrant