1 Konings 19: 12
Het jy al ooit die oefening gedoen om in absolute stilte te sit met geen lawaai om jou nie? Vir talle mense is die stilte iets wat hulle ongemaklik maak, want die stilte verteenwoordig vir hulle een-of-ander leegte. ’n Leegte wat met klank of met iemand of met een van die baie take wat op hulle wag, gevul moet word. Leegtes voel dikwels soos ’n tipe verlies en wanneer die leegte van stilte oor ons kom, is dit dikwels ’n diepe drang in ons moderne harte om daardie leegte so gou as moontlik te vul.
In 1 Konings 19: 12 herinner die skrywer ons dat die sagte gesuis, of soos dit in die 1983-vertaling staan ’n fluistering in die windstilte, egter nie ’n leegte verteenwoordig nie, maar gevul is met die Here se teenwoordigheid. Wendell Berry het dit dalk reg gehad? In sy gedig I go amoung the trees sê hy dat wanneer hy tussen die bome stil word, lê al sy take (die dinge wat hy nog moet doen) voor hom soos beeste in die veld. Maar dan, in die stilte, kom ontmoet twee dinge hom – eers dit wat vir hom bang is. Al die diere in die natuur kom oor sy pad en hy het die voorreg om hulle in te neem en ’n nuwe verhouding met hulle te skep. Wanneer die diere hom verlaat is hulle nie meer bang vir hom nie, maar sing hul eie unieke liedere.
Daar is egter nog iets wat hom in die stilte kom ontmoet – dit waarvoor hy bang is. Hy leef ’n ruk in dit wat hom bang maak se aangesig en dit verlaat hom stelselmatig. Hy kry dan die geleentheid om sy eie lied te sing.
Mag ons nie te haastig wees om die stiltes vol te maak met iets anders nie. Dalk bring die stiltes self die dinge na vore wat ons daar moet kom ontmoet? Dalk wil die Here ons daar ontmoet?
Ds Steve Oxton, Wapadrant