Eksodus 22: 22-24
Moenie ’n weduwee of ’n weeskind verdruk nie; (Eks 22: 22). Die 2020-Afrikaanse Bybel maak dikwels die interessante keuse om vaderlose te vertaal waar die 1983-Bybel die woord wees gebruik het.
Vaderloosheid is een van die diepste vorms van kwesbaarheid. In die Ou Testament tref ons al vroeg God se duidelike verbintenis met die kwesbares aan. Eksodus 22 is deel van ’n stel wette wat die volk leer hoe om regverdig met mekaar te leef ná hul bevryding uit slawerny. En een van die opdragte wat God gee, is om die weerloses te beskerm, ook die weduwees en die weeskinders – dié sonder stem, status of beskerming.
Die waarskuwing is ernstig: moenie hulle verdruk of uitbuit nie. Want as hulle roep, sê God: sal Ek luister. Hierdie woorde sê vir ons dat God nie onbetrokke by menslike lyding is nie. Hy is nie ’n afsydige heerser nie – Hy hoor die geroep van dié wat ander oor die hoof sien.
God sê verder: Ek sal toornig word. Dis nie ’n God wat bloot medelye voel nie – dit is ’n God wat sy geregtigheid laat geld. As ons God wil ken soos Hy Homself bekend maak, dan moet ons Hom leer ken as ’n beskermer van die vaderlose. Sy toorn wil dié beskerm wat weerloos is.
In ’n wêreld waar miljoene kinders fisies of emosioneel sonder ’n vader grootword, is hierdie teks vandag net so dringend soos toe. Dit roep nie net die kerk op om ’n veilige ruimte te wees nie, maar elke gelowige om met verantwoordelikheid te leef. Jou woorde, jou invloed, jou optrede – alles moet die hart van God weerspieël.
En as jy self grootgeword het sonder ’n pa of met ’n afwesige, selfs afbrekende vader is hierdie teks vir jou ook ’n belofte: God sien jou. God hoor jou. God tree op vir jou. Jy is nie alleen nie. Jy is nie vergete nie.
’n Samelewing wat God wil weerspieël, is een waar die vaderlose geregtigheid kry – en liefde.
Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid