Johannes 14: 18 (AFR2020)
Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe (Joh 14: 18). In Johannes 14 sit Jesus saam met sy dissipels rondom die tafel. Die kruis is naby, en Hy berei hulle voor op sy vertrek. Die dissipels is bang en verward. Wat sal van hulle word as Hy weggaan? Jesus kyk hulle in die oë en sê: Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie.
Dis ’n merkwaardige keuse van woorde hierdie. Jesus weet hoe diep die vrees vir verlatenheid sit. En in daardie oomblik noem Hy hulle nie net vriende of volgelinge nie – Hy benoem hul kwesbaarheid: weeskinders. Daarmee wys Hy dat Hy nie net hul uiterlike situasie sien nie, maar hul innerlike nood. En Hy belowe teen dit: Ek sal terugkom. Ek sal julle nie los nie.
Die vaderlose hart is ’n hart wat diep vra: Wie sal my liefhê? Wie sal my beskerm? Wie sal vir my sorg as alles uitmekaar val? Jesus antwoord elkeen van daardie vrae deur te sê: Ek sal. Nie net eendag nie, maar nou – deur die Heilige Gees, wat Hy stuur om in ons te woon.
Hierdie belofte bring identiteit: jy is nie ’n kind sonder ’n huis nie. Jy is nie alleen gelaat op die lewenspad nie. Jy het ’n Vader in die hemel en ’n Broer wat jou liefhet met alles wat Hy is. Jou lewe het betekenis – en jy het behoort.
Vir dié wat sonder ’n pa grootgeword het, of wat hulself soms geestelik vaderloos voel, is Jesus se woorde soos water in ’n droë land. Hy sê: Ek los jou nie soos die wêreld jou los nie. Ek gee jou nie op nie. Ek sal kom. En Ek sal bly.
Laat hierdie woorde jou anker wees: Jy is nie ’n weeskind nie. Jy is geliefd, gevul met die Gees, en veilig in die arms van die Een wat nooit verlaat nie.
Ds Milankie van der Walt, Namib-Suid