Johannes 21: 1-14

Die geraas van elke dag is somtyds baie erg. Voertuie wat in die stadsverkeer rem en toeter blaas kan baie angswekkend wees. Die oorverdowende musiek wat uit sommige motors kom laat jou wonder hoe klink dit in die motors. Baie mense het die gewoonte om so hard te praat dat jy hulle meters ver kan hoor. Dit is dikwels nogal ’n uitdaging om ’n gesprek te volg met al die geraas rondom jou. Behalwe vir die geraas van buite is daar somtyds ook ’n geraas in ons harte. Bekommernisse, hartseer, verlange en onsekerhede wat in jou binneste woed, kan ons besig hou en ’n geraas veroorsaak wat jou laat sukkel om stil te raak.

Na Jesus se kruisiging en opstanding, besluit die dissipels om te gaan visvang. So asof hulle gedink dat alles nou verby is en dat hulle moet terugkeer na hulle ou lewenswyse van visvang. By hierdie geleentheid verskyn Christus aan hulle. Jesus staan op die strand by die See van Tiberius en kyk vir hulle. Die dissipels besef nie dat dit Jesus is nie. Wanneer Petrus egter hoor dat dit Jesus is, trek hy dadelik sy hemp aan, spring in die water en hardloop Hom tegemoet. Dit wat hy gehoor het, het hom by die Here uitgebring.

Wat hoor ons? Dikwels hoor ons net die slegte geraas van die lewe. Met die sosiale media en al die moderne tegnologie is daar baie negatiewe geraas. Ons volg die nuus soos wat dit gebeur. Ons is byna verslaaf aan slegte nuus en verwag die ergste.

Hoor die goeie nuus dat Christus die dood en die mag van die doderyk oorwin het. Dalk moet ons so bietjie doof word vir die slegte geraas van die wêreld en moeite doen om ons ore, maar ook ons harte te vul met die nuus dat Jesus Christus ’n einde kom maak het aan die sondemag en dit dat die begin van ’n nuwe lewe is.

Hoor nuut en leef nuut uit die genade van Christus.

Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas