2 Korintiërs 2: 12-17

Met die stap deur ’n winkelsentrum, word ’n mens somtyds verras met ’n klomp geure. Die koffiewinkel nooi jou vir ’n lekker koffiekuier, die bakkery se reuke maak jou honger en die groentewinkel herinner jou om gesond te eet. Reuke en geure het ’n manier om met jou te praat. Dit herinner ons dikwels aan sekere situasie en gebeure wat somtyds aangenaam en somtyds hartseer is.

Ons lees in hierdie gedeelte van ’n triomftog met ’n geur. Paulus verwys hier na die gebruik van ’n generaal wat saam met sy soldate terugkeer van die oorlog af en dan deur die strate stap en wierook brand as ’n teken van hulle oorwinning. Dit is ’n triomftog met groot vreugde. Almal is opgewonde oor die oorwinning en dankbaar dat die soldate veilig tuis is. Die reuk van die wierook het in die lug gehang en was ’n aangename reuk vir die generaal en sy soldate.

Aan die agterkant van hierdie optog het die krygsgevangenes gevolg en hulle was nie opgewonde nie. Vir hulle was die reuk van die wierook ’n doodsreuk want daar wag tronkstraf en moeilike tye op hulle. Dieselfde geur word geruik, maar dit ontlok verskillende reaksies by verskillende mense.

Jesus se opstanding het ’n oorwinning oor sonde en die dood gebring. Jesus het vir ons lewe en ’n nuwe begin gebring. Verlossing en bevryding uit die mag van dood en die doderyk. Dit beteken egter vir diegene wat Hom nie wil aanvaar as Verlosser, dat hulle soos diegene agter in die triomftog word en nie gered word nie. Daar is net een Weg en Waarheid, Daar is geen ander Naam wat verlossing bring as Jesus Christus nie. Ons is óf deel van die triomftog van Jesus Christus óf ons word gevangenes van die sondemag en ellende. Óf ons aanbid Jesus Christus met hart en siel en al ons verstand óf ons gaan verlore.

Mag die aangename geur van Christus se opstanding vir ons maar ook deur ons versprei word.

Dr Martin Jansen van Rensburg, Delmas