Romeine 6: 1-11
Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ’n nuwe lewe kan lei (Rom 6: 4).
Jesus se opstanding het nie net ’n hemelse betekenis nie – dit verander ook hoe ons vandag leef. Paulus leer dat ons deur ons eenheid met Christus deel kry aan beide sy dood én sy opstanding. Ons is dus nie meer slawe van sonde nie, maar vrygemaak om in ’n nuwe lewe te wandel.
Die reformatoriese tradisie beklemtoon die krag van die doop as teken van hierdie verbond – dat God ons roep om in sy opstandingslewe te leef. Dit beteken nie net nuwe morele standaarde nie, maar ’n hele nuwe identiteit. Ons lewe nou met Christus as middelpunt.
Vir die elke gelowige beteken dit prakties dat elke dag ’n kans is om nuut te begin. Die foute van gister, die woede, die selfsug – dit word nie weggesteek nie, maar aan die kruis vasgespyker. En uit die graf van skuld en skaamte bring God iets nuuts voort: geloof, liefde, vergifnis.
Niemand is geroep tot perfeksie nie, maar tot voorbeeld. Om te wys hoe nuutheid lyk: deur eerste jammer te sê, deur geduldig te wees, deur die Bybel oop te maak. En jy mag weet: die Here Jesus wil ook jou lewe verander – van hartseer tot hoop, van vrees tot vertroue.
Wat beteken dit vir jou om in ’n nuwe lewe te wandel? Wat sou jy graag nuut wil sien in jou lewe?
Gebed
Here, dankie dat U ons nie net vergewe het nie, maar ook verander het. Laat u opstandingslewe sigbaar wees in ons lewens – in hoe ons praat, dink en leef. Vorm ons elke dag meer na die beeld van u Seun. Amen.
Ds Frikkie van Wyk, Montana-Oos