Johannes 20: 19-31 (AFR2020)

Die dissipels was die Sondagaand met gemengde gevoelens bymekaar. Hulle is opgewonde oor alles wat gebeur het, maar ook bang vir die Joodse leiers wat met venyn die veldtog teen Jesus voortsit. Die situasie was baie gespanne wanneer die dissipels koppe bymekaar sit om planne oor die toekoms te maak. Die deure is gesluit en die dissipels praat saggies. Hulle bereik niks met hulle beraadslaging nie.

Hulle was oorbluf wanneer hulle Jesus aan sy stem erken. Dit beklemtoon die wonderbare aard van Jesus. Geslote deure kon Jesus nie uithou nie. Die dissipels se vrees word vervang met Christus se vredesgroet: Vrede vir julle. Hierdie vredesgroet wat Jesus gee, beteken die volheid van die lewe tot in ewigheid. Vrede wat die totale Christelike lewe omvat en wat beteken dat Jesus se opstanding die lewe die moeite werd maak.

Die opgewondenheid van die vrede, krag en opdrag aan die dissipels word gerem wanneer Thomas verduidelik dat hy niks glo wat die ander dissipels hom vertel nie. Thomas wil vir Jesus sien voordat hy glo. Thomas wil aan Jesus vat. Die dissipels se woorde is nie vir Thomas genoeg nie. Jesus wys sy hande en sy aan Thomas om hom te oortuig dat Hy fisiek opgestaan het. EEN KYK IS GENOEG! Die lig breek vir Thomas deur: sy Meester het werklik opgestaan! Daarom roep hy uit: My Here en my God! U leef en ek saam met U.

Wie kan nou nog hoegenaamd twyfel? Wanneer ’n mens voor die opgestane Here Jesus staan, kan daar geen twyfel meer wees oor wie Hy is nie.

Dalk moet ons versigtig wees om Thomas te oordeel, want watter oomblikke met God het ons al gemis? Dalk geleenthede met die Gees wat ons nie raakgesien het nie? Waar het ons met die Here al te doen gekry, en dit nie geag nie?

Laat ons ook vanoggend met volle geloofsoortuiging en vertroue uitroep: Ek beleef U, U is elke oomblik by my Here en my God.

Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth