Efesiërs 2: 1-10 (AFR2020)
In die teks draai Paulus dus geen doekies om oor wie die mense van Efese was nie. Hulle was vasgevang in die begeertes van hul sondige aard en het dit geleef. Dit het ook beteken dat hulle kinders was van die straf en God se woede het op hulle gerus. Paulus skryf, oor sy eie lewe as vervolger van die kerk en verwerper van Christus. Elke persoon het nodig om deur God verlos te word. In sy groot liefde het Hy ons lewend gemaak in Christus. Hy het ons gered van ons sondige aard. Hy het ons gered van ons sondige gedagtes. Hy het ons deur sy genade verlos, sodat ons nie langer kinders van die ongehoorsaamheid sou wees nie, maar kinders van God.
Watter vreugde om die vryheid van Christus te kan ervaar! Skoongewas deur sy bloed. Sonder enige skuld van die sonde. Vry om God te dien in die goeie werke wat Hy vir ons voorberei het.
Hoekom die herinnering aan die verlossing en God se groot genade? Omdat die gemeente van Efese en ons ook telkens die gevaar loop om opgeslurp te word deur die kultuur van die dag. Daar is ’n groot kontras tussen mense wat leef volgens die waardes en beginsels van die gees van hierdie wêreld, die duiwel, en die waardes en beginsels van die Gees van God – vrygemaak! Die Gees van God lei ons om aan sy Woord gehoorsaam te wees. Om te leef as die maaksel van God, as sy nuwe skepsels. Die Gees van God lei ons om ons sondige aard te kruisig, en ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor God ons bestem het.
Paulus herinner ons dat ons God se maaksel, sy kinders en meesterstuk is. Ons is nie kinders van die ongehoorsaamheid nie. Deur God is ons geskape vir die uitnemende projekte wat Hy deur ons wil uitvoer in hierdie lewe. Ons is geskep vir die goeie werke wat God deur ons wil doen. Alles uit genade.
Ds Denise Schmidt, Jeffreysbaai / Port Elizabeth