Tydens my tyd as teologiestudent het ek ’n bepaalde denkwyse gehad oor hoe die bediening van binne lyk én werk. Ná ’n jaar in die bediening moet ek erken dat die bediening total anders lyk as wat ek gedink het. Dit is meer uitdagend, maar dit is beslis ook meer bevredigend!

Dit is nou al ’n bietjie meer as ’n jaar vandat ek as predikant in Gemeente Louis Trichardt dien. Wat my die heel eerste keer aangegryp het toe ek in 2024 as student by die gemeente kom preek het, was die sigbare samesyn van die geloofsgemeenskap op ’n Sondag ná die erediens. Vandag is dít steeds die een aspek van gemeentewees wat ek die meeste koester! As ek dit dan self mag sê: Die kuier op ’n Sondag ná kerk is week na week een van my hoogtepunte.

By Gemeente Louis Tricardt en Zoutpansberg is dit die gebruik dat elke lidmaat wat daartoe in staat is, Sondae ’n soetigheidjie of ’n vingerhappie bring vir die gemeente om ná die diens in die saal saam met koffie en tee te geniet. As gemeente kuier ons dan saam terwyl ons die borde leeg eet! Ek spot baie keer en sê dit is juis hier in die saal waar ek die meeste van my huisbesoeke afhandel. Dit is óók hier, tussendeur die gekuier en die paar kindertjies wat rond hardloop en skree, waar die lidmate by mekaar huisbesoek doen en waar stories van die vorige week met groot opwinding gedeel word. (Tussendeur die gekuier in die saal word daar op hierdie wyse ook meer as ’n net handvol huisbesoeke by my afgelê!)

Buiten vir die feit dat ons op ’n Sondag lekker kuier, was daar in hierdie eerste jaar ’n paar uitdagings wat oor my pad as leraar gekom het. Hierdie uitdagings het van buite die gemeente en soms ook van binne die gemeente gekom. As student was dít altyd een van my grootste vrese: Sê nou maar net dat daar ’n moeilike situasie afspeel en ek weet nie hoe om dit reg te hanteer nie. Wat dan? Wel, ná ’n jaar en ’n paar sulke uitdagings, besef ek dit is eintlik eenvoudig – wanneer so ’n situasie homself afspeel, gaan jy na jou kerkraad toe want hulle het waarskynlik al êrens met so ’n situasie te doen gehad! Die kerkraad is immers daar om leiding te gee én om jou, as predikant, se hande sterk te maak. Keer op keer het ons, as kerkraad en ek as predikant, elke uitdaging te danke aan die leiding, wysheid en ondersteuning van die hele kerkraad wat saam gesels en besluit, oorkom.

Ná ’n jaar in die bediening is ek meer seker as ooit – hierdie is waarvoor ek geroep is en dit is wat ek wil doen! Ek is diep dankbaar vir die voorreg om saam met die Gemeente Louis Trichardt en Zoutpansberg die Here te kan dien.

Mag ons as gemeentes en as die Hervormde Kerk daarom voortgaan om in afhanklikheid en met oorgawe, liefde en eensgesindheid te bou aan sy Koninkryk, getrou aan sy Woord en tot eer van sy Naam alleen. Dít is tog waartoe elke predikant, elke kerkraad en elke lidmaat geroep word.

(Hooffoto: Ds Zilcha Mostert saam met haar kerkraad)