Volgens verskeie bronne was daar voor die huidige oorlog in Iran in 2026 tussen 50 tot 60 aktiewe konflikte wêreldwyd. Die direkte militêre koste van dié konflik in Iran beloop sedert 28 Februarie 2026 ongeveer $44,5 miljoen vir net die Amerikaanse ekonomie. Met hierdie bedrag kon die Amerikaners 3,4 miljoen hawelose Amerikaners vir ’n jaar lank onderhou het of 60 miljoen kinders se skoolvoedingsprogram betaal het!
Maar meer ontstellend nog, is die boodskap wat die oorlog van Christene uitstuur. Daarvolgens is dit reg of geregverdig, vir welke rede ook al, dat ’n land waarvan ongeveer 66% (of 235 miljoen) hulself as Christene tipeer om ’n land wat bykans 100% ’n Moslem-godsdiens aanhang, kan aanval en kan probeer om dit totaal te verwoes. Dit is hoe president Trump dit oor die Paastyd verkondig het.
Maar nou is die vraag: Hoe moet ons as Christene (en meer spesifiek Hervormers) hier aan die Suidpunt van Afrika ons oor die oorlog uitspreek? Myns insiens moet ons onthou dat toe Jesus as die Messias deur Jesaja as Vredevors (Jes 9: 5) voor sy geboorte aangekondig het, word dit deur die engele tydens sy geboorte bevestig: Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het! (Luk 2: 14, AFR83). Jesus se doel met sy koms na die aarde toe, is onteenseglik om vir sy volgelinge vrede te gee – nie enige vrede nie – Sy eie Godgefundeerde vrede.
Toe Jesus met sy bediening begin, het Hy die mense wat vredemakers is, as mense getipeer wat werklik gelukkig (welgeluksalig) is want hulle sal kinders van God genoem word (Matt 5: 9). En Hy het sy dissipels geleer dat as jy ’n offer wil bring en jy onthou dat jy iets teen jou broer het, moet jy jou gawe daar by die altaar los en gaan vrede maak met daardie broer en om dan kom en die gawe bring (Matt 5: 24). Jesus se leering wat Hy van sy dissipels verwag het, was dus gesentreer rondom die aktiewe najaag van vrede. Dit verg optrede en was beslis nie passief nie – dit is nie ’n diklip, opgeblase stilswye bloot net om die vrede te bewaar nie.
Sy onderrig aan sy dissipels was dat hulle in vrede met mekaar moes lewe (Mark 9: 50). Die verwaande Johannes en Andreas wat die belangrikste plekke langs Jesus wou annekseer, moes saam met die tollenaar Levi en die voortvarende Petrus, die ongelowige Tomas en die gierige Judas in vrede met mekaar lewe. Toe Jesus die apostels uitgestuur het, het Hy hulle as volg onderrig as hulle ’n huis betree: As julle in ’n huis kom, moet julle eerste woorde wees: ‘Vrede vir hierdie huis’ (Luk 10: 5, AFR83). Dit is ook in lyn met die groet waarmee Hy sy dissipels gegroet het na sy opstanding (Joh 20: 19 en 21). En voor sy gevangeskap het Jesus die volgende versekering aan sy dissipels gegee: Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie. (Joh 14: 27, AFR83). En Hy het sy dissipels onderrig dat hul vrede net in Jesus self gevind kan word: Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin (Joh 16: 33, AFR83).
En deur die apostels is die boodskap van Jesus se vrede aan die wêreld verkondig aangesien hy die onvrede wat sonde gebring het tussen God en die mens kom herstel het: God het ons dan nou vrygespreek deurdat ons glo. Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons Here Jesus Christus (Rom 5: 1, AFR83). En ook in Efesiërs 2: 17 (AFR83): Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. En ook in Kol 1: 20 (AFR83): Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het Hy die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.
Paulus verduidelik dat vrede een van die drie pilare van God se koninkryk is en dat ons as Jesus se dissipels, daardie pilaar moet opbou en in stand hou: 17Die koninkryk van God is nie ’n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. 18Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense. 19Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder (Rom 14: 17-19, AFR83).
Daarom word daar op ons as Jesus se dissipels ’n verantwoordelikheid geplaas om as dit moontlik is, sover dit van ons afhang, in vrede met alle mense te leef (Rom 12: 18) asook volgens 2 Korinthiërs 13: 11 (AFR83): Verder, broers, wees bly, streef na die geestelike volwassenheid, aanvaar vermaning, wees eensgesind, leef in vrede. En die God van liefde en vrede sal by julle wees! En ook Efesiërs 4: 3 (AFR83): Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Ons as Jesus se dissipels moet die bereidheid om die evangelie van vrede te verkondig as skoene aan die voete aantrek as deel van ons wapenrusting (Ef 6: 15).
Die verkondiging van God se vrede is dus ’n onvervreembare plig vir ’n dissipel van Jesus want volgens Kolossense 3: 15 moet die vrede wat Christus gee, in ons lewens die deurslag gee want God het ons immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe.
Wanneer Paulus in 1 Tessalonisense 5: 13 (AFR83) aan die gemeente daar verduidelik wat dissipelskap beteken, stel hy dit so: Betoon in liefde die hoogste agting aan hulle ter wille van hulle werk. Leef in vrede met mekaar. Dit word ook in Hebreërs 12: 14 (AFR83) bevestig: Beywer julle vir vrede met alle mense asook vir ’n heilige lewe, waarsonder niemand die Here sal sien nie. En Petrus sê in 1 Petrus 3: 11 (AFR83) ons moet vrede najaag: Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! Omdat die Heilige Gees die lewe van ’n Christen beheers, word vrede een van die vrugte wat ons as Christene moet produseer (Gal 5: 22).
En die gevolg van die beheersing van ons lewe deur die Gees: En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Fil 4: 7, AFR83).
Gegewe hierdie ondubbelsinnige leringe van ons Here en Meester kan spesifiek ’n Christen-Hervormer nooit enige oorlog goedkeur nie en moet ons myns insiens ondubbelsinnig ’n beroep op Amerika en Israel maak om summier vrede met Iran te maak want ’n stilswye van ons kant af, blyk ’n stilswyende goedkeuring van die oorlog te wees.
(Hierdie teks is ’n meningstuk. Die standpunte in die teks is nie noodwendig die beleid of standpunte van die NHKA nie.)