Jesaja 49: 5-6

Jesaja 40-55 trek soms so ’n sterk goue draad na die opstanding van Jesus Christus toe. Beide die volk in ballingskap sowel as die volk in Romeinse onderdrukking, beleef ’n nood tot verligting. Hulle het ’n behoefte om uit hul chaos gered te word. In Jesaja sien ons deurlopend hoe daar aangekondig word dat hulle wel hierdie verligting sal ontvang, en dat hulle teruggestuur sal word na hul tuiste. Die Here sal geregtigheid laat geskied en begin met die herstel van sy skepping. In die Evangelies en selfs in Handelinge en die briewe daarna, lees ons ook hoe die opstanding van Jesus verligting, hoop en vreugde bring. Wat ons wel in hierdie teksgedeelte asook in Matteus 28 raaksien, is dat die Here se herstel nie ons herstel is nie.

Die bedoeling van die verligting en redding uit die ballingskap is nie sodat die verbondsvolk bloot weer kan terugkeer na die goeie ou dae toe nie. So ook het Jesus met Maria en die dissipels gepraat en hulle laat verstaan dat hulle nou ’n verdere, groter roeping en opdrag het. Ons Here as hoop vir hierdie wêreld, moet ook die wêreld se hoop word. Die opstanding van Jesus, net soos die ballinge se vrylating en terugkeer, was nie net ’n verligting vir hulle onmiddellike omstandighede nie, dit was ook ’n oproep om nou deel te word van ’n groter beweging. In vers 6 van Jesaja 49 lees ons juis dat die dienaar ’n lig vir die nasies moes wees sodat die redding van die Here die uithoeke van die aarde kan bereik. So sê Jesus ook dat die dissipels nou moet gaan na al die nasies toe om hulle sy dissipels te maak.

Vir ons word dit duidelik dat ons steeds deel van hierdie opdrag is wat al van Jesaja af kom, dat ons nie nou passief sit en wag vir die Koninkryk van God nie. Ons moet dit gaan sigbaar maak. Ons liefde, ons deernis, ons selfbeheersing, ons genade, ons hoop moet vir die nasies om ons wys dat Jesus het opgestaan en die dood oorwin.

Ds Schalk Zastron, Ermelo / Ermelo-Suid