Lukas 18: 9-14
Met die oog op mense wat seker was dat hulle eie saak met God reg is en wat op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: Twee mense het na die tempel toe gegaan om te bid. Die een was ’n Fariseër en die ander een ’n tollenaar (Luk 18: 9-10).
By die Fariseër was daar selfverheffing en geen eerbied vir God nie.
Maar die tollenaar het daar ver bly staan en wou selfs nie na die hemel opkyk nie. Hy het bedroef op sy bors geslaan en gesê: O God, wees my, sondaar genadig. (Luk 18: 13). Hy was hartseer want hy weet van sy sonde en sy swakheid. Hy het berou daaroor. Hy was bewus van sy verlorenheid. Wanneer hy op sy bors slaan, is dit die teken van sy droefheid oor wie hy self is. Hy weet hy kan homself nie red nie. Daarom pleit en smeek hy om genade by die heilige God.
Hy ontvang genade, wat God aan hom skenk. Jesus het dit bevestig: Ek sê vir julle: Hierdie man, en nie die ander een nie, het huis toe gegaan as iemand wie se saak met God reg is. Elkeen wat hoogmoedig is, sal verneder word; en hy wat nederig is, sal verhoog word (Luk 18: 14).
Ook ons is uit genade gered, sonder verdienste. Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God (Ef 2: 8). Ons ontvang dit met dankbaarheid.
Ons bid in nederigheid en afhanklikheid van God. Dit is ons troos wanneer ons bid: Net so help die Gees ons ook in ons swakheid. Ons weet nie altyd wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie in woorde gesê kan word nie. En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges (Rom 8: 26-27).
Ds Kotie Mc Donald, Emeritus