Psalm 32: 1-7
Die digter sê dat dit op ’n stadium in sy lewe nie met hom goed gegaan het nie. Hy het begin om selfondersoek doen. Dit was deur sy eie toedoen dat dit sleg gegaan het. Hy het oor sy sonde stilgebly. Dit het vir hom gevoel asof die Here se hand swaar op hom druk en hy nie krag het nie.
Die digter het ook geweet dat die Here ’n lewende Here is vir wie die mens nie kan wegvlug nie. Ná ’n lang worsteling in homself het hy uiteindelik besluit om na die Here toe te gaan en sy sondeskuld te bely. Hy het erken dat hy opstanding was. Hy was eerlik en opreg en het erken dat hy oortree het.
Vir hom is daar geen ander manier om vergewing van sonde te ontvang as om na die Here toe te gaan nie. Die enigste manier is die mens se bereidheid om tot inkeer te kom en tot die Here te bid. Wanneer die digter dit doen en roep om hulp, bewys die Here aan hom genade en hy ontvang vergewing. Sy oortredinge is nie gestraf nie. Hy sien dan die hand van Here wat hom lei na ’n plek van veiligheid. By die Here kan hy skuiling vind. In sy nood sal die Here hom help en hom beskerm. Sodoende het die Here hom ook gelei sodat hy sy omstandighede kon oorwin. Hy het die grootheid en goedheid van die Here ervaar.
Jesus Christus het die straf vir ons sonde volledig gedra.
Oor óns oortredings is hy deurboor,
oor óns sondes is hy verbrysel;
die straf wat vir ons
vrede moes bring,
was op hom,
deur sý wonde
het daar vir ons genesing gekom (Jes 53: 5).
Mag ons die hand van die Here sien wat ons lei in moeilike omstandighede. Mag die Here vir ons geloofsekerheid gee sodat ons kan sê: U laat my oorwinningsliedere sing (Ps 32: 7b).
Ds Kotie Mc Donald, Emeritus