Psalm 91: 1-16

Daar is tye in ons lewens wat ons onveilig voel en bang is, veral wanneer ons in die nood is. Dit is ’n werklikheid dat ons ook daagliks met die bose en die kwaad in aanraking kom. Ons besef ons het veiligheid en beskerming nodig. Ons stryd is selfs teen bose geeste in die lug (Ef 6: 12).

Die digter sê dat daar bedags en snags gevaar is. Dit is sy ervaring dat daar aanvalle, plae en siektes is wat ons  tref en baie ander dinge wat met ons kan gebeur in hierdie wêreld.

Die digter wat die Here ken, erken dat daar ook ’n groter werklikheid is: dit is die mag van God. Hy is die enigste God wat kan red. Sodoende onderskei Hy hom van alle ander magte. Hy maak die lewe nou en ná die dood moontlik. Die Here is die Allerhoogste, wat kan skuiling gee. Hy is die Almagtige wat kan beskerm. Die digter het dit in sy omstandighede ervaar en getuig daarvan.

Saam met die digter kry ons vandag die versekering dat die Here die Allerhoogste en die Almagtige God is, veral in die tye wat ons beskerming en veiligheid nodig het. As gelowiges is dit ons siening van die werklikheid – vandag en elke dag van ons lewe. Ons is daaroor bly.

Die geloof in God gee vir ons die moed om dit wat in die lewe met ons gebeur, te hanteer. Dit vra van ons die vasberadenheid om ons te onderwerp aan die wil van God. Soms lei die Here ons op paaie wat ons dalk nie verwag het nie. Sommige paaie is vol klippe, soos wat daar in Palestina was. Mag ons dan steeds onwrikbaar bly glo dat die Here ons sal beskerm.

Ons kan met geborgenheid en sekerheid leef.

Hy sal sy engele opdrag gee

om jou te beskerm waar jy ook al gaan.

Op hulle hande sal hulle jou dra,

sodat jy nie jou voet

teen ’n klip sal stamp nie (Ps 91: 11-12).

Ds Kotie Mc Donald, Emeritus