Johannes 14: 2-3

Gedurende my weermagdae het ek ’n rit in ’n helikopter in die omstreke van Pafuri in die noorde van die Krugerwildtuin meegemaak. Ons het oor die bergagtige en golwende landskap gevlieg en olifante en ’n buffeltrop uit die lug gesien. Toe is daar skielik ’n radiogesprek waarna die vlieënier my meedeel dat hulle my gaan aflaai om inderhaas manskappe elders in die gebied te verskuif. Ons kom jou netnou haal, was die vlieënier se woorde toe ek uitspring en oomblikke later staan ek in die wildernis tussen niks en nêrens. ’n Aardige gevoel het my beetgepak en ek het op ’n miershoop gaan sit en gespanne die wêreld om my betrag. Die minute het verby getik en wat na ure gevoel het, het ek die bekende dreuning van die helikopter gehoor. Die vlieënier het woord gehou en my kom haal en na die veiligheid van die basis geneem.

Jesus het sy dissipels meegedeel dat Hy weggaan, maar dat Hy hulle weer sal kom haal. Daar was geen tydsaanduiding van sy afwesigheid nie, wel ’n aanduiding van waarmee Hy gaan besig wees. Hierdie mededeling aan sy dissipels was nodig om hul ontsteltenis te temper want Hy skep ’n lieflike beeld van wat op hulle wag wanneer hy hulle eendag weer kom haal. Dit is die beeld van ’n vaderhuis met baie woonplek.

Die beeld van die vaderhuis word aan die eerste-eeuse Joodse huwelikskultuur ontleen. Nadat ’n verlowing plaasgevind het, het die toekomstige bruidegom na sy vaderhuis teruggekeer waar hy vir sy toekomstige bruid ’n woonplek aangebou het. Sodra die aanbouings afgehandel is, het hy en sy geselskap aanstaltes gemaak om haar te gaan haal, aan haar nuwe woonplek bekend te stel, en dan het die huweliksfees begin. Die gelykenis van die tien jong meisies en die lang wag koppel aan hierdie huwelikspraktyk.

Dit is die week van Hemelvaart. Ons vier Jesus se weggaan maar ook die belofte dat Hy ons iewers kom haal. In die Vaderhuis gaan daar vir elkeen woonplek wees. Wat meer kan ons hart begeer? 

Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege