Johannes 14: 7-11
In ons spreektaal sê ons maklik: Sien is glo. Dis iets wat jy hoor as iemand skepties is: Eers wanneer ek dit met my eie oë sien, sal ek dit glo. Die wêreld leer ons om visuele bewyse bo vertroue te stel. Maar in die Bybel word hierdie sêding omgekeer.
Wanneer Jesus in Johannes 14 met sy dissipels praat oor die Vader se huis en die pad daarheen, is dit Filippus wat sê: Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg (Joh 14: 8).
Jesus antwoord hom amper met verbasing: Ek is al so lank by julle, en jy ken My nie, Filippus? (Joh 14: 9). Filippus is juis van die eerste dissipels wat Johannes by die naam geroep het (Joh 1: 43). Hy het ’n lang pad saam met Jesus bewandel. Jesus vervolg dan met die woorde: Wie My gesien het, het die Vader gesien. Jesus wys dat geloof nie gebou is op fisieke bewyse nie, maar eerder op ’n verhouding, op vertroue, op die openbaring van God in Jesus.
Net enkele hoofstukke later ontmoet ons Tomas, die dissipel wat nie by die eerste verskyning van die opgestane Here was nie. Hy verklaar openlik: As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien… en my hand in sy, sy steek nie, sal ek beslis nie glo nie. Jesus verskyn toe later aan hom en nooi hom uit om te sien en Hom aan te raak. Tomas se reaksie? Net die woorde: My Here en my God! Jesus keer verder die hele sien-is-glo-logika op sy kop met die woorde: Glo jy omdat jy My gesien het? Geseënd is dié wat nie gesien het nie en tog glo (Joh 20: 29).
Geloof is nie blind nie – maar dit vertrou op meer as wat die oë kan sien. Dit sien met die hart, dit hoor die stem van die Goeie Herder, en dit rus in die belofte van God. In ’n wêreld wat bewyse soek, nooi Jesus ons uit tot vertroue: nie sien is glo nie, maar eerder: Glo… en sal jy sien.
Dr André Ungerer, Hervormde Teologiese Kollege