Toe vra Jesus vir die twaalf: “Wil julle nie ook weggaan nie?” Simon Petrus het Hom geantwoord: “Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde wat die ewige lewe gee” (Joh 6: 67-68, AFR83).

Petrus se antwoord in hierdie teks is ’n bevestiging dat dit wat Jesus Christus ons oor God geleer het, mense se enigste hoop in die lewe is. Jesus se woorde is vir ons opgeteken in die Bybel. Dit bevat God se boodskap van hoop vir die wêreld. Die vertaling van die Bybel ’n instrument waardeur mense uiteindelik tot ’n persoonlike en intieme verhouding met Jesus Christus kom. Dit is ook die kerk se verantwoordelikheid om die Bybel in mense se moedertaal, en so bekostigbaar as moontlik, beskikbaar te stel. Die Bybel is vir baie mense ’n simbool van hoop.

Het jy al ’n Bybel vir iemand gegee? Dit was vir my ’n voorreg om as werknemer van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika dit by verskeie geleenthede wel te kon doen. Die vreugde en dankbaarheid van kinders en volwassenes wat vir die eerste keer ’n eie Bybel in hul moedertaal ontvang, sal my altyd bybly. En nou, aan die einde van my tydperk by die Bybelgenootskap, besef ek dat dit eintlik ’n voorreg is waarin elke lidmaat van die Kerk behoort te kan deel. Dit is nie alleen van onskatbare waarde vir die een wat die Bybel ontvang nie, maar om ’n Bybel vir iemand te gee, is ook vir die gewer daarvan ’n bron van hoop en inspirasie.

Maar soos ons weet, val Bybels in mense se moedertaal nie sommer uit die lug nie. Dit is ’n lang en voortdurende proses om die Bybel te vertaal. Hierdie baie gespesialiseerde en verantwoordelike proses van Bybelvertaling is die Bybelgenootskap van Suid-Afrika se kerntaak. Hiervoor word daar natuurlik ook fondse benodig. Die spesiale deurkollekte wat gemeentes jaarliks aan die Bybelgenootskap oorbetaal, word hoofsaaklik hiervoor aangewend.

Die Bybelgenootskap beskik nie oor die fondse om ’n beduidende aantal Bybels gratis te versprei nie. Kerkrade en ringe word derhalwe aangemoedig om self fondse beskikbaar te stel vir die aankoop en verspreiding van Bybels. Ek is persoonlik bereid om gemeentes in hierdie verband te help. Gemeentes kwalifiseer om Bybels teen ’n groot afslag by die Bybelgenootskap aan te koop. Bybelverspreiding is ’n goeie geleentheid vir gemeentes en individue om missionaal in die gemeenskap betrokke te wees.

Bybels kan ook gratis elektronies afgelaai en versprei word. Soek gerus die toepassing op ’n selfoon se toepassingswinkel. Tik Bible Society of South Africa in die soekblok. Kies dan enige van die beskikbare toepassings met die Saaier as kenteken op en installeer dit. Registreer op die toepassing en maak die toepassing oop om die Bybel te kan lees. Daar is ook ’n spesifieke toepassing waarop die Bybels in oudioformaat beskikbaar is, sowel as een met Bybelverhale vir kinders.

Baie dankie vir die voorreg wat my te beurt geval het om die Here vir die laaste nege jaar van my voltydse bediening in die Kerk deur die werksaamhede van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika te kon dien. Dit was nie altyd ’n maklike tyd nie. Aan die einde van 2019 het my lewe aan ’n draadjie gehang en het die Here my op ’n wonderbaarlike wyse gespaar. Daarna het die Covid-pandemie en twee herstrukturerings in die Bybelgenootskap gevolg. Tog was daar heelwat hoogtepunte: die Bybelgenootskap se 200-jarige bestaan, die bekendstelling van die 2020-Afrikaanse vertaling, die 90ste bestaansjaar van die Bybel in Afrikaans, die MRCC se eeufees, 200 jaar van kerkwees in Suid-Afrika en die bydrae van die Bybel tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal oor die afgelope 100 jaar.

In hierdie tyd het ek bykans 300 000 km sonder enige ernstige ongevalle gereis. My vrou, Karien, het my op die meeste van hierdie reise vergesel. Aan haar ’n persoonlike woord van waardering vir al die ondersteuning en soms ook ontberinge! Ons is oral in die Kerk vriendelik ontvang. Baie dankie aan elke kollega, kerkraad, ringskommissie en gemeente wat aan my die geleentheid gebied het om my werk te kon doen. Aan die Here al die dank vir sy genade.

Wat ek ontvang het, is vir my mooi (Ps 16: 6, AFR83).

(Dr Gerhard Lindeque is leraar by Gemeente Makarios en voltydse lid van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika)