Van 29 Mei tot 5 Junie 2026 is dit Nasionale Kinderbeskermingsweek. Vanjaar is die nasionale tema: Samewerking in die beëindiging van geweld teen kinders. Maar hoe beëindig jy geweld teen kinders?

Hoe stop jy iemand wat bevrediging daaruit put om kinders te beheer, te domineer en aan te rand? Hoe stop jy iemand wat eerder drank, dwelms of rookgoed koop in plaas daarvan om kos vir hul kinders te koop? Hoe stop jy iemand om geld weg te dobbel waarmee hulle vir hul kinders moes sorg? Hoe stop jy iemand wat seksuele bevrediging daaruit put om kinders te betas, te molesteer en te verkrag?

Dit klink soos ’n onbegonne taak om geweld teen kinders te stop. Om net te sê dit is verkeerd, gaan nie help nie. Om kindermishandelaars te probeer rehabiliteer gaan net ’n klein bietjie help (en ons moenie ophou om te probeer nie). Die enigste manier om ’n kind teen geweld te beskerm, is om die kind uit die geweldsituasie te red – en die meeste van die tyd beteken dit jy moet die kind verwyder. Maklik?

Nie so maklik nie…

Die volgende moet in ag geneem word:

  • ’n Plek van veiligheid moet gevind word (en dit is skaars).
  • Soms red jy ’n kind met net die klere aan sy/haar lyf(ie). Dan moet jy kos en klere en dalk doeke en formulemelk gereed hê.
  • Behoorlike ondersoeke moet gedoen word, wat in ’n hof getoets gaan word. Dit kan forensiese assesserings insluit.
  • Na ’n paar weke in ’n plek van veiligheid moet die kind(ers) in pleegsorg geplaas word, of in ’n jeugtuiste plek kry. En plek is skaars…

En as jy dit alles reggekry het, is die werk nie afgehandel nie:

  • Getraumatiseerde kinders het terapie nodig, en iemand moet daarvoor betaal.
  • Gereelde toesigdienste moet gelewer word.
  • As plasings misluk, moet nuwe plekke gekry word.
  • Die meeste hofbevele vir pleegsorg is vir ’n maksimum van twee jaar geldig. Dan moet jy teruggaan hof toe.
  • Ondersoeke moet gedoen word om te bepaal of gesinshereniging moontlik is.
  • En die heel beste oplossing, aanneming, is komplekse en tydrowende prosesse nodig!

Niks van hierdie is natuurlik moontlik as ’n geregistreerde maatskaplike werker, wat saam met ’n toesighouer werk en aan ’n organisasie behoort wat geregistreer is om dit te mag doen, nie daarvan weet nie. So daar moet deurlopend, maar veral in Kinderbeskermingsweek, bewusmaking gedoen word. Kinders moet aangemoedig word om mishandeling aan te meld. In baie gevalle moet kinders geleer word wat is aanvaarbaar en wat nie. Mense soos onderwysers moet geleer word hoe om dit na die maatskaplike werker te verwys. Daar kort brandstof om te ry om dit te doen (om nie van die koste van ’n voertuig te praat nie). Jy kort rekenaars, selfone, data…

Die maklikste (en gewildste) manier om hierdie probleem te hanteer, is die probleem op iemand anders se skouers te plaas. To pass the buck. Dit is mos die staat se verantwoordelikheid. Hierdie is definitief die maklikste oplossing, maar dit is net nie Bybels korrek nie…

Verlede jaar, tydens die 74ste Algemene Kerkvergadering, het ons Kerk egter gesê dat die maklike oplossing nie reg is nie. Ons het soos volg besluit:

Die NHKA stel onomwonde dat die Christelike kerk ’n roeping het om op te staan en in te staan vir die regte van weeskinders en ander kinders wat deur die maatskaplike prosesse, soos bepaal in die Kinderwet, beskerm moet word. Alle pogings om die beste belang van hierdie kinders ondergeskik te stel aan politieke mag en ideologieë, moet in die sterkste moontlike taal verwerp word. Die NHKA moet hierdie saak ook deur die ekumeniese liggame waaraan ons behoort, verder voer.

Die NHKA se eie gemeentes moet opgeroep word om die omvang van maatskaplike probleme te besef, en betrokke te wees deur missionale diakonaat. Die barmhartigheidswerk deur gelowiges en gemeentes sal opnuut aandag moet kry om onder andere kinderbeskerming en kinderversorging te laat geskied. Dit moet deel uitmaak van die diakonaat se strategie vir die toekoms.

(74ste AKV, Besluit 25)

Ons mag nie op ’n afstand verbystap nie – ons moet nader gaan, die wonde help verbind, die stukkende kind na die spreekwoordelike herberg bring, en die herberg in staat stel om die kind te help.

Ons mag nie ons hande in onskuld was en sê dit is iemand anders se skuld en iemand anders se verantwoordelikheid nie.

92 jaar gelede het ons Kerk ’n kommissie aangewys waaruit ons maatskaplike dienste gebore is, en wat uiteindelik neerslag gevind het in ons eie kinderbeskermingsorganisasie, naamlik Rata Maatskaplike Dienste.

Laat ons volhou, moedhou en kophou om ons Christelike roeping te gehoorsaam!