Jesaja 53: 1-5
Hy was verag en deur mense verstoot, ’n man van lyding… (Jes 53: 5).
In ons moderne kultuur word lyding dikwels as iets gesien wat vermy moet word – iets wat ons so vinnig as moontlik moet regmaak of wegwens. Ons neem pynstillers, gebruik vermyding of ontvlugting. Daar is voortdurend ’n poging om weg te beweeg van pyn en lyding. Maar wanneer ons na die Bybel kyk, sien ons ’n ander werklikheid: God is nie afwesig in lyding nie – Hy is juis dáár teenwoordig. Jesaja 53 gee vir ons ’n ontstellende maar diep troosvolle prentjie van die Messias: verag, verstoot, seer, geken aan smart en swaarkry.
Hierdie beeld van God is radikaal. Dis nie die God van mag en oorwinning wat hier voorstaan nie, maar die God wat ons pyn deel. Die God wat ly, wat huil, wat saam met ons in ons donker nagte sit. In Jesus word hierdie prentjie vlees en bloed. Hy loop saam met ons op stofpaaie, raak aan siekes, huil oor sy vriende se dood en roep in verlatenheid aan die kruis.
Wat beteken dit vir ons geloof? Dit beteken dat ons nie ’n God het wat op ’n afstand kyk en oordeel nie, maar Een wat binne-in ons gebrokenheid teenwoordig is. Dit beteken ook dat ons, as God se mense, geroep word om dieselfde te doen: om nie vinnig antwoorde te gee of pyn te probeer oplos nie, maar om teenwoordig te wees – soos God.
Praktiese toepassing: Dink aan iemand wat seer het – fisies, emosioneel of geestelik. Sit vandag eenvoudig by daardie persoon, of stuur ’n boodskap om te sê jy dink aan hulle. Jy hoef nie raad te gee nie – net teenwoordig wees.
Gebed
Here, leer my om u teenwoordigheid te herken in trane, pyn en gebrokenheid. Maak my oë en hart oop vir u lydende liefde. Amen.
Ds Johnny Young, Rustenburg-Tuine