Handelinge 6: 8-15; 7: 51-58

Gedurigdeur word Israel herinner aan God se dade. Daar word veral na twee gebeure – nogal regdeur die Bybel – verwys om Israel te herinner dat die drie-enige God ’n getroue God is. Die een is dat God Hom telkens bekendmaak as die God van Abram, Isak en Jakob (die aartsvaders). Met ander woorde as die God wat getrou is aan sy beloftes van seën en sorg. Daarom kan Israel God vertrou met hul toekoms deur terug te kyk na die geskiedenis van God en die aartsvaders.

Die God van Abram, Isak en Jakob. Dit is so ’n belangrike verwysingspunt van God se trou dat selfs Stefanus – honderde jare daarna – na die God van die aartsvaders verwys. As die Joodse Raad wil weet wie Jesus van Nasaret is, dan hoef hulle nie verder te kyk as die God wat Homself aan Abram, Isak en Jakob kom verbind het nie (Hand 7: 32).

Die tweede gebeure wat ons regdeur die Bybel vind om te herinner aan God se trou, is dat God die Reddergod is wat Israel bevry het van slawerny vanuit Egipteland. Hiérdie reddingsdade staan geskrywe oor die hele Bybel heen. Ook wanneer Stefanus nagenoeg 1 300 jaar na die uittog teenoor die Joodse Raad getuig (Hand 7: 36).

God wil hê sy kinders moet Hom dien. Nie omdat Hy ’n tiran is nie, maar omdat Hy die Reddergod is wat in liefde vrymaak; die Verbondsgod wat getrou is aan sy beloftes. God wil hê dat sy volk Hom in hierdie vryheid wat Hy voorsien, by onder meer die Rietsee en deur die Christus op Golgota, bly vertrou en bly dien as die goeie God.

Die Heilige Gees gee aan Stefanus dié wysheid om te getuig dat die gekruisigde en opgestane Christus, die Here is (Hand 6: 10). Die Joodse Raad weerstaan egter die wysheid van die Gees. Hulle druk nie alleen hul ore toe as hulle op Stefanus afstorm nie (Hand 7: 57). Hulle is ook doof vir die Woord van God.

Ds André Thomas, Oos-Moot