Lukas 16: 19-31
Op die Sondae ná Trinitatis konsentreer die Kerk op Jesus se verkondiging, soos sy gelykenisse. Gelowiges verwys na die gelykenis van die ryk man en Lasarus om antwoorde te kry oor hul vrae (nuuskierigheid) aangaande die lewe ná die dood. Kan die gelykenis egter iets aan ons sê oor die lewe vóór die dood? Die gelykenis is ’n waarskuwing aan ons wat voor die aangesig van God lewe.
Drie keer vra die ryk man Abraham om hulp.
Sy versoek dat Lasarus gestuur word om net sy tong af te koel, word geweier. Die deur wat die ryk man en Lasarus op aarde geskei het en die ryk man nooit oopgestoot het om hulp te verleen nie, het nou ’n onoorbrugbare kloof geword.
Sy versoek om Lasarus na sy vyf broers te stuur as waarskuwing teen die pyn word geweier. Die vyf broers het die wet en die profete wat die wil van God bekendmaak.
Sy versoek om Lasarus dan te stuur met die motivering as iemand wat uit die dood na sy broers gaan, word ook afgewys. Op ’n vaderlike wyse weier Abraham elke versoek. Hy spreek die ryk man selfs aan as my kind. Om ’n kind van Abraham te wees is geen waarborg vir redding nie.
Ons fokus gewoonlik op die ryk man en Lasarus, maar wat van die vyf broers? Hulle lewe nog immers. Daar is nog vir hulle tyd om hul oë en harte oop te maak en die woorde van die goeie God te glo wat aan hulle voorskryf hoe om naby aan God te lewe.
Ons het die woorde van die apostels en die profete wat in hoofsaak oor die Christus handel. Ons het selfs Iemand wat uit die dood opgestaan het. Vir baie is hierdie boodskap aangaande die Christus nie aanvaarbaar nie. ’n Meer aanvaarbare boodskap gaan egter nie deur ander mense en bo-natuurlike wesens gebring word nie. Ons word opgeroep om die verkondiging van Gods Woord ter harte te neem. Die oproep het met beide geloof en ons lewenswandel te make.
Ds André Thomas, Oos-Moot