Eksodus 14: 1-16
’n Mens kan nie help om te glimlag oor die gesprek tussen Moses en die volk in Eksodus 14 nie. Wat ’n onstuimige gesprek (of meer van ’n geskree) moes dit nie gewees het nie!
Vasgevang tussen twee gevare is daar geen pad vir Israel sigbaar nie. Vorentoe kan hulle nie, want die waters van die Rietsee doem voor hulle op. Agtertoe kan hulle ook nie, want die farao se bemanning en strydwaens kom met ’n goeie spoed agter hulle aan. In hierdie knyptangsituasie draai die volk na Moses. En Moses draai op sy beurt na God. En God antwoord Moses: Waarom roep julle so benoud na My? Sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. En dít is die prentjie wat my so laat glimlag: Moses wat vir ’n gillende, benoude volk sê: Trek verder. Die Here sê julle moet verder trek. Ek wonder wat het die volk Moses nogal geantwoord!
Voeg daarby vorige relletjies tussen Moses en die volk oor sy roeping om die volk uit Egipte te lei en die tafel is gedek vir konfrontasie as gevaar by die Rietsee dreig.
Waarheen Here? Hoe kom ek uit hierdie gemors? Hoe trek ’n mens verder as gevaar van alle kante dreig, Here? Waar is die pad Here? Dit is waters op waters met geen sigbare uitkoms. Dit is klaar met my!
Water en watermassas kom volop in die Bybel voor as metafoor van menslike bedreigings; selfs Goddelike oordeel. Dink aan Noag en die sondvloed. Maar in die hand van die Almagtige God word water ook metafoor van ’n nuwe begin en lewe. Menslike insig is beperk. Moses sê vir die Israeliete hulle moet verder trek. Dan kloof die Here ’n pad waar die menslike oog geen pad en uitkoms sien nie. Van hierdie beperkte menslike insig en Goddelike uitkoms getuig die kruis op Golgota en die leë graf.
Maak nie saak hoe goed jou beplanning is nie; die pad van môre is vir almal onbekend. Ons wandel egter in geloof en vertroue dat die bekende God saam met ons op onbekende weë gaan.
Ds André Thomas, Oos-Moot