Johannes 3: 1-21

Ons kan die Gees van God ontmoet en ontvang. Ons kan God se Gees ten dele leer ken maar ons sal nooit werklik die Gees van God kan verstaan nie.

Ons sal nooit God se heiligheid, sy almagtigheid, sy alwetendheid, sy genade, sy liefde kan verstaan nie. Ons sal nooit die Drie-Eenheid, die werking van die persone van God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees kan verstaan nie.

Ons leer vanuit die Woord van God net dit wat nodig is om genoeg te kan verstaan sodat ons kan glo en vertrou.

Soos wat Nikodemus moes beleef en besef dat hy dit nie kan verstaan nie. Hy kan net glo en vertrou. Nikodemus was deel van die Fariseërs, juis hulle wat kennis en insig rakende die geloof en geloofsleer gehad het. Verder was hy deel van die Joodse Raad wat bewys dat hy ’n geleerde en gerespekteerde man was.

Die Here Jesus sê aan Nikodemus dat hy nie verbaas moet wees oor wat Hy leer nie. Jesus leer dat ’n mens uit water en uit die Gees gebore moet word. Jesus leer dat die werking van die Heilige Gees vergelyk kan word met die wind. Ons kan nie bepaal waarvandaan die wind kom of waarheen die wind gaan nie. Ons weet nie waar begin of eindig die wind nie. Ons kan wel die wind voel. Ons kan die wind beleef. Net so moet ons bewus wees van die werking van die Heilige Gees, nie om te verstaan nie maar om te beleef en te ervaar.

In vers 10 vra Jesus: Jy is die bekende leermeester van Israel en jy verstaan dit nie? As ’n bekende leermeester van Israel dit nie verstaan het nie, kan ek en u ook nie verwag om te verstaan nie.

Hebreërs 11: 1 leer ons: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.

Gebed

Here dankie dat ek nie alles hoef te verstaan nie maar net mag glo. Amen.

Ds Michael A Müller, Potchefstroom-Studente