Wanneer ons as predikante die laaste paar jaar van ons bediening bereik, kan jy kwalik glo hoe vinnig dit verbysnel. Dit voel onwerklik wanneer jy skielik jou afskeidsgeleentheid moet reël.
’n Groot aantal lidmate en kollegas het die voorreg gehad om op 10 Mei saam met dr Gerhard en mev Karien Lindeque terug te kyk op 40 jaar se kosbare dienswerk in die Kerk. Dr Lindeque is in 1986 georden en het in Gemeentes Voortrekkerhoogte, Swartkop, Rooihuiskraal, Midstream en Makarios (deeltyds) gedien. In beide Rooihuiskraal en Midstream was hy die gemeentes se eerste predikant, en dus die stigter en medebouer. Sedert 2017 is hy by die Bybelgenootskap van SA betrokke en tree as kantoorhoof van die Noordelike streek af. Dr Lindeque het as dosent by die destydse HTO, later AIM, en by die HTK opgetree. Hy was voorts ook lid van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, die Proponentseksamenkommissie en het as die redakteur van Die Hervormer gedien.
Die Kerk kyk in dankbaarheid saam met die Lindeque-gesin terug op kosbare diensjare in ons Heer se koninkryk en wens hulle seën toe met die nuwe lewensfase.
Op die foto verskyn dr en mev Lindeque saam met hul seuns, Jaco en Gerco en hulle gades. Die foto is tydens die afskeidsgeleentheid te Swartkop, dr Lindeque se grootwordgemeente, geneem.
(Ds David Barnard is emerituspredikant en leraar van Gemeente Magaliesmoot. Hy is ook die redakteur van Die Hervormer)