Genesis 13: 1-18; Galasiërs 3: 15-20

Die episode tussen Abram en Lot in Genesis 13 speel soos ’n bordspeletjie af. Dit het só voorspoedig met beide Abram en Lot gegaan dat hulle te min grond gehad het vir al hul vee. Die gevolg is dat daar rusie ontstaan onder hul veewagters. Abram sê vir Lot dat hulle elkeen op hul eie grond moet aangaan, sodat daar genoeg kos en water en weiding vir al die diere kan wees.

Lot kies die gedeelte van die land wat op die oog af beter lyk. Ons kan sê dat Lot vir homself die beter hand in die spel van die lewe kies. Nadat Lot die mooiste deel van die land gekies het, en dit lyk of daar net bleek vooruitsigte vir Abram is, gee die Here egter aan Abram ’n beter opsie: die belofte van méér grond, ’n groot nageslag wat die grond bewoon en sy teenwoordigheid by Abram.

In die wêreld waarin Abram geleef het, was goeie, vrugbare en waterryke grond ’n skaars hulpbron. Gedryf deur ’n ekonomie van skaarsheid, kenmerk konflik, kompetering en aggressie die optrede van Abram en Lot se veewagters. Tog gee Abram se geloof in God se beloftes vir hom ’n ander uitkyk op die ekonomiese werklikhede van sy tyd. Die verdeling van grond en hulpbronne is getuienis van ’n gesindheid wat gebou is op die ekonomie van belofte, eerder as die ekonomie van skaarsheid.

Geloof verander die reëls van die lewenspel. In die weddenskap van die lewe vra geloof dikwels dat ’n mens alles op die spel plaas, suiwer op grond van die beloftes van God. In Galasiërs 3 interpreteer Paulus die belofte wat God aan Abram gemaak het in terme van Christus. Jesus Christus is die belofte van God wat in vervulling gegaan het. In Hom is God se belofte van redding, voorsiening en teenwoordigheid vervolmaak. Só herdefinieer God self die reëls van die lewenspel en kan ons, ongeag die kaarte in ons hand, vertrou in God se genadige uitkoms vir ons lewe.

Dr Marina Kok-Pretorius, Potchefstroom